Uitreik

“Aarde-opkoms” en “Aarde-ondergang”

April 24, 20263 min read

Prof. Willie van Heerden skryf oor “Aarde-opkoms” en “Aarde-ondergang” wat ons uitdaag om die aarde nie te ontvlug nie, maar dit as God se skepping te kies en te versorg.

Sorg

Die afgelope week of drie was die aarde weer in die nuus. Ná 1972 was dit die eerste keer wat mense weer maan toe gestuur is. Foto’s wat uit die Artemis II-ruimtetuig geneem is, het mense se verbeelding aangegryp.

Een van daardie foto’s laat ons onmiddellik dink aan ‘n ander, ouer, ikoniese foto — om ten minste twee redes: hoe die twee foto’s lyk en watter titel elke foto gekry het. Albei wys die aarde, soos van die maan gesien, net ‘n entjie bokant die maan se horison.

Die ouer foto wat in 1968 uit die Apollo 8-ruimtetuig geneem is, lyk so:

aarde 1

Hierdie foto dra die titel “Earthrise” (“Aarde-opkoms”) en wys die aarde kort nadat dit bo die maan se horison verskyn het.

Die tweede foto is net ‘n paar weke gelede, amper vyftig jaar ná die eerste een, deur een van die bemanningslede van die Artemis II geneem.

Aarde  2

Hierdie foto toon opvallende ooreenkomste met die ouer foto, maar daar is ook belangrike verskille. Die onlangse foto is geneem net voordat die aarde onder die horison van die maan verdwyn het. Daarom dra dit die titel “Earthset” (“Aarde-ondergang”)

Maar daar is nóg ‘n verskil, naamlik wat onderskeidelik in die 1968 en 2026 ruimtereisigers se gedagtewêreld geleef het. Een van die boodskappe wat 1968 se reisigers vergesel het, was: “Die aarde is mense se babawiegie, maar geen mens kan permanent in ‘n wiegie bly nie.” Dit vertel van ‘n strewe om groot genoeg te word om die aarde te kan agterlaat.

Maar wat het 2026 se reisigers gesê? Hulle het omtrent veertig minute lank geen kontak met die aarde gehad nie, omdat hulle toe reg “agter” die maan was. Toe hulle weer kontak kon bewerkstellig, het een van die reisigers aan boord van die Artemis II gesê: “Dit is so goed om weer van Aarde te hoor. Ons wil nie Aarde agterlaat nie, ons kies Aarde… Ons wil mense inspireer met wat ons beleef, maar uiteindelik sal ons altyd Aarde wil kies.”

Net so duidelik soos die kontras tussen die titels van die twee foto’s (Earthrise, teenoor Earthset), is die boodskappe van die twee groepe ruimtevaarders (Ontsnap van die aarde, teenoor Kies die aarde).

Ook wanneer Bybellesers praat oor waarheen ons met ons lewens op pad is, hoor ons iets van hierdie twee strewes: Voel ons diep binne dat die aarde met al haar stryd en pyn net ‘n tydelike tuiste is en dat ons werklike tuiste die hemel is; dat ons die aarde wil agterlaat; dat ons lewe op aarde so ingerig moet word dat ons voorbereid is vir die hemel, sodat ons nie in die warmplek beland nie?

Of is die verhaal waaraan ons met ons lewens lyf probeer gee dié van die aarde as ons werklike tuiste; dat die betekenis van ons lewe daarin lê dat ons vernuwend leef en so ‘n goue draad in die Bybel ervaarbaar help maak — die aanbreek van ‘n nuwe skepping, ‘n nuwe aarde, ‘n nuwe hemel, ‘n nuwe Jerusalem. Hierdie nuwe werklikheid het volgens Openbaring 21:1-3 te doen met iets wat uit die hemel na die aarde neerdaal en wat God woonplek gee tussen die mense!

Wanneer ons die aarde nie wil ontvlug nie, verander al ons verhoudings hier in die aarde. Ook ons verhouding met die aarde self. Dan onthou ons dat God ook in die eerste boek van die Bybel ‘n verbond gesluit het met Noag, sy nageslag, alle lewende wesens, en die aarde self! (Genesis 9)

Back to Blog