
iM-pak Nuusbrief 9 Oktober 2026


iM-pak Nuusbrief 9 Oktober 2026
BRIEF
Brief
Hoe praat die kerk oor geld?
Oktober is dankbaarheidsmaand in Monumentpark. Ons deel hierdie gebruik met baie gemeentes en dit het een van die inkomstestrome geword wat die gemeente help om die boeke te laat klop.
Die meeste gemeentes het ʼn opdraande stryd om genoeg geld te kry om die kerk se werk in stand te hou en ʼn gebruik soos dankbaarheidsmaand, wanneer lidmate probeer om so ietsie ekstra te gee, help baie. Daar is wel die “Mall-kerke” wat oënskynlik beter vaar. Maar hulle gebruik dikwels konsepte soos straf en beloning om die lidmate se beursies oop te kry. Gee jou bydrae en jy sal sien hoe die Here jou besigheid seën of doen dit nie en dra die gevolge! Dié soort swak teologie mag dalk suksesvol wees, maar ons sal nie met ʼn tang daaraan wil raak nie. Terug by ons kerk. Waarom is daar goeie gelowige lidmate wat geen geldelike bydrae tot die werk van die kerk maak nie? Dit is veilig om te sê dat die bydraekoers in die deursnee NG-gemeente nie veel meer as 50% is nie.
Omdat ek nie meer voltyds in diens van die kerk is nie, het ek deesdae meer vrymoedigheid om daaroor te praat en uit te vra. Hoekom is daar ʼn wesenlike deel van ʼn gemeente wat nie ʼn bydrae maak nie? Wat, indien enigiets, sal dit verander? Danksy ʼn klomp mense wat die moeite gedoen het om my vraag te antwoord, verstaan ek beter. Dit maak dit moontlik om rustig daaroor na te dink en soos gewoonlik is dit ingewikkelder as wat jy vermoed het. Die reaksie kan in ten minste vier kategorieë verdeel word.
Die eerste groep se antwoord was: “Ons gee nie, want ons kan nie.” Alhoewel ek dit duidelik gestel het dat ek nie oor die groep skryf nie, het mense gevoel hulle wil dit verduidelik. Daar is pensioenarisse wat agterkom hoe hulle pensioene se waarde deur inflasie weggekalwe word. Baie van ons mense is in die posisie waar hulle moet help om ouers en soms ʼn broer of suster te versorg. Ander weer voel die impak van steeds stygende skoolgelde en sukkel om die gesin se begroting te laat klop. Die kerk en ander organisasies wat van vrywillige bydraes afhanklik is, weet al geruime tyd dat die ruimte vir diskresionêre uitgawes kleiner word. As jy regtig nie kan nie (en hieroor sal elkeen met hom/haarself eerlik moet wees), kan jy nie. Einde van die storie. Jy bly ʼn onmisbare deel van die gemeente.
Die tweede groep het vertroue in die kerk verloor. In ons geval die NG Kerk. Daar is by die meeste nog ʼn positiewe gevoel oor Monumentpark, maar korporatief het die NG Kerk seergekry. Dit is deel van ʼn groter wantroue in instellings. Wie kan ek vertrou met my geld? Korrupsie en wanbestuur is aan die orde van die dag. Dit is waarom dit vir die kerkraad van Monumentpark so belangrik is om oop en deursigtig met lidmate se bydraes te werk. Ek het regtig vrymoedigheid om te sê: “hierdie instelling kan jy vertrou!”
Die derde groep verkies om elders te gee. Hulle doen wonderlike koninkrykswerk en maak ʼn verskil in mense se lewens. Hulle hou daarvan om direk by projekte betrokke te wees en dit laat hulle waardevol voel. Ek weet nie hoe ons hulle gaan oortuig dat die kerk nie sal voortbestaan as almal hulle opsie kies nie. En, om nou maar weer die oorbekende voorbeeld te gebruik, wie sal ooit kan opgewonde wees dat hulle gehelp het om die kerk se water en ligte rekening te betaal?
Die vierde groep sê hulle het nie geweet nie. “Ons het gedink die kerk (Monumentpark) het meer as genoeg geld.” Dit is waar dat Monumentpark se finansies die afgelope tyd mooi gegroei het en dat die gemeente finansieel gesond is. Ons kan elke jaar al ons verpligtinge nakom en is in staat om op baie plekke te help. Die afgelope twee jaar het ons doelbewus die een leraarspos nie gevul nie om geld beskikbaar te kry om noodsaaklike onderhoud en opknapping van die geboue te finansier. Daar is ʼn bufferfonds vir onvoorsiene gebeure, maar die res word bestee om te doen wat die kerk geroepe is om te doen. Die antwoord is dus eenvoudig. Hoe meer lidmate gee, hoe groter verskil kan Monumentpark in die lewens van mense maak.
Ek verstaan ʼn bietjie meer van die kompleksiteit van die saak. Maar steeds wonder ek wat regtig agter ons swak syfers sit? Die oop gesprek rondom die ronde tafel moet ons een of ander tyd probeer hou as ons by die hart van die saak wil uitkom. Daar is meer om te sê as wat in hierdie stuk moontlik was.
Dr. James Kirkpatrick
BEDIENINGSNUUS


Erediens
• Erediens: Geloofsverbintenis en Nagmaal: Sondag, 11 Oktober 2026, 9:00vm.
Predikers: Aldi Serfontein, Ds. Lizl-Louise Schoeman en Dr. James Kirkpatrick.
Aanlyn skakel vir die regstreekse uitsending.
Aanlyn bydraes:
Klik HIER om 'n bydrae te maak op Snapscan.
GELOOFSVORMING

Bybelstudie en Groeigroep

Kleuterkerk en Jeuggroepe
Ons sien mekaar weer die 18de Oktober.
Verbintenisgroep
11 Oktober 2026: Geloofsverbintenis en Nagmaal.
Jong Volwassenes Selgroep
Vir meer inligting, sluit gerus HIER by ons WhatsApp-groep aan.
ADMINISTRASIE

Vergaderings
Daar is geen vergaderings die week nie.
UITREIK

Spens-projek


Vakansieprojek: 28 September 2026 – 1 Oktober 2026.
Die vakansieprojek was ’n reuse sukses en ’n fantastiese week vir die kinders! Baie dankie aan almal wat dit moontlik gemaak het.










SORG

Wild en Wakker Lentefees
Die Wild & Wakker Lentefees
Die Wild en Wakker Lentefees vind op Saterdag, 10 Oktober 2026, plaas. Daar gaan vele stalletjies vanaf 09:00vm wees, heerlike eetgoed, hope kindervermaak en ’n fantastiese veiling!
Daar is iets vir die hele gesin, so bring die kinders, nooi julle vriende en kom geniet die dag saam met ons.

Nuwe Lidmate-funksie

Dankbaarheidsmaand

Personeel verjaarsdae
Baie geluk aan Steven Mathibela wat die 4de Oktober verjaar het en ook aan Petro Barnard wat op 11 Oktober verjaar. Ons wens julle alles wat mooi is toe!

Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):

Die mees onlangse Noordelike Sinode nuusbrief is HIER besikbaar.
SLOTBOODSKAP
Slotboodskap
Dankbaarheidsmaand is ’n mooi geleentheid om weer stil te staan by wat ons het en wat ons met mekaar kan deel. Ons sien baie uit daarna om julle môre by die Wild en Wakker Lentefees te sien.
Tot volgende keer!
Ds. Lizl-Louise Schoeman
