
iM-pak Nuusbrief 29 Mei


In hierdie uitgawe van iM-pak:
• Brief: Dr. James Kirkpatrick
• Eredienste
• Geloofsvorming
• Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil)
Brief
Iets vir die bitter smaak
Koffie-afsprake het die laaste dekade of wat deel van my lewe geword. Woensdagoggend kuier ek toe saam ʼn vriend wat binnekort aftree. Ons deel etlike jare van betrokkenheid by kerk en akademie. Hy by die akademie, maar tog ook van harte by die kerk. Ek by die kerk, maar tog ook met ʼn liefde vir die akademie. Dit is altyd lekker, want ons vertrou mekaar. Ons dink terug aan al die sinodesittings waar ons saam was en hoe die kerk nie altyd gehou het van die insigte vanuit die teologiese wetenskap nie. Dit kon en het dan maklik gebeur dat die etiket “liberaal” op die nuwe insigte geplak is. Dan was dit verby met jou. Wanneer jy aan ʼn debat deelneem, het jy geweet daar is by sommige ʼn diep wantroue teenoor jou. Hulle gaan niks hoor wat jy sê nie. Vir my was die ergste (of dalk moet ek nie sê “was” nie, want dit gebeur steeds) dat jou geloof bevraagteken is. Dit is ʼn kant van die kerk wat nie een van ons wil onthou nie, maar jy sukkel om die bitter smaak uit jou mond te kry. Een koppie koffie is nie genoeg nie.
Na ons kuier wou ons gesprek my nie los nie. Ek onthou toe die ervaring met die ouderling van Prieska by ʼn Algemene Sinode van 2015 waaroor ek destyds iets geskryf het. Ek gaan haal dit uit die argiewe om te herlees. Dalk help dit met die bitter smaak. Hier is dit:
By ʼn vergadering van die Algemene Sinode was Danie my onmiddellike buurman aan die tafel. Hy is ouderling van die gemeente op Prieska. Met ʼn sinodesitting is dit byna soos op ʼn vliegtuig. Jy tref dit goed of sleg wat jou reisgenoot betref. Sommer die eerste dag al moes ons iewers aan die tafels oor Belhar praat. En ek het gou besef dat ons twee eintlik oorkant mekaar moet sit. Dit sou simbolies meer gepas wees. Op vele punte van die sakelys het ons die dinge verskillend verstaan. Selfs toe ek kla oor die ondraaglike hitte in Affies se skoolsaal, het hy my probeer reghelp. “Nee man, jy weet nie wat warm is nie. Daar by ons op Prieska het my hond nou anderdag ʼn jakkals gejaag en toe ek weer sien, toe loop albei. So warm is dit daar!” Na die gesprek oor selfdegeslagverhoudings (gay-gesprek) was ons byna buite bereik van mekaar wat standpunte betref. Ek sê “byna”, want selfs in daardie emosioneel gelaaide atmosfeer het ek steeds ervaar dat Danie my broer is. Ek was deurgaans bewus van die egtheid en aardsheid van sy geloof. Dit is lidmate soos hy wat van die NG Kerk so merkwaardige kerk maak. Danie wou net een ding doen. Hy wou aan die Here van die kerk gehoorsaam wees. En ek dink hy het aanvaar dat hierdie tafelgenoot van hom dieselfde probeer doen en hy was bereid om met my daaroor te praat. Toe ons gevra word om twee-twee saam by die tafel te bid, val Danie weg: “Here, U weet dit is vir my moeilik hier by die Sinode waar ons so baie van mekaar verskil. My broer hier by die tafel maak my kop deurmekaar, maar dankie dat ons kan praat. Amen” Danksy die ouderling van Prieska verstaan ek beter waarom mense probleme het met die NG Kerk se besluite oor gay-mense en het ek net weer beleef hoe belangrik dit is dat ons werklik met respek na mekaar moet luister. Selfs, of dalk juis, wanneer ons nie saamstem nie.
Vir ʼn keer het ek dit goed getref by ʼn sinodesitting. Dankie Danie!
Dr. James Kirkpatrick
BEDIENINGS NUUS

Erediens

Erediens: Sondag, 31 Mei 2026, 9:00vm.
Prediker: Dr. James Kirkpatrick
Aanlyn skakel vir die regstreekse uitsending.
Aanlyn bydraes:
Klik HIER om 'n bydrae te maak op Snapscan


Waterkloof Marina-kuiergeleentheid
Die Waterkloof Marina-kuier by NG Monumentpark het die 24ste Mei plaasgevind. Ná die erediens het almal in die Jeugsaal bymekaargekom vir lekker verversings en warm samesyn.
Baie dankie aan elkeen wat deel was van die kuier — dit was wonderlik om saam te kuier!



Kleuterkerk en jeuggroepe
Hierdie komende Sondag staan ons stil by Genesis 2.
Indien jy en/of jou gesin in die komende week verder hieroor wil nadink en saam gesels, kan julle van die volgende huisgeloof gebruik maak:
Huisgeloof
Gesels saam:
As jy vandag enige dier kon kies om as troeteldier in die tuin te hê, wat sou dit wees en watter naam sou jy dit gee?
Lees saam:
Genesis 2:4-9 en 15-25.
Dink saam:
In Genesis 1 sien ons die groot prentjie van God wat alles skep. In Genesis 2 kom ons nader, en sien ons hoe persoonlik God met mense werk.
• Wat val jou op van hoe God die mens maak in hierdie verhaal? Hoe verskil dit van Genesis 1?
• God blaas Sy eie asem in die mens. Wat dink julle verander in ons huis as ons mekaar sien as mense wat “God se asem” in hulle het?
• Die mens kry die taak om die tuin te bewerk en op te pas. Wat leer dit ons oor werk, sorg en verantwoordelikheid?
• God sê dit is “nie goed dat die mens alleen is nie.”
Hoekom dink julle is verhoudings so belangrik?
Doen saam:
Plant saam ’n klein plantjie of saad in ’n pot of in die tuin.
Sluit af met gebed.
Verbintenisgroep
Ons kom hierdie Sondag, 31 Mei, weer om 18:00 in die Jeugsaal bymekaar en ons gaan saam gesels oor die doop. Dit is ons laaste byeenkoms voor die vakansie, en ons sien mekaar dan weer die 26 Julie.

Jong Volwassenes Selgroep
Ons kom Dinsdag, 2 Junie, om 18:30 in die Konferensielokaal bymekaar. Ons gaan gesels oor Thomas en twyfel. Kom kuier saam!

As jy meer wil weet, sluit gerus HIER aan by die WhatsApp-groep.

Bedieningsvergaderings
• Geen vergaderings die komende week nie.
Uitreik


Bottel-en-Bord
Bottel-en-Bord het op 28 Mei in die Jeugsaal plaasgevind, en dit was ’n groot sukses!
Baie dankie aan Dr. Theuns Eloff vir sy interessante bydrae as gasspreker, asook aan almal wat deel was van die aand en dit so spesiaal gemaak het.



Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):

Die mees onlangse Noordelike Sinode nuusbrief is HIER besikbaar.
Slotboodskap
Mag ons hierdie week met oop harte saam die Here dien, selfs waar ons verskillend dink. Sterkte aan al die kinders en jongmense in ons gemeente wat eksamen skryf; ons bid vir rustigheid, wysheid en nuwe moed.
Tot volgende keer!
Ds. Lizl-Louise Schoeman
