
iM-pak Nuusbrief 28 Augustus


iM-pak Nuusbrief 28 Augustus
BRIEF
Brief
Kom kry jou sjokolade.
Toe ons drie jaar gelede deel geword het van Monumentparkgemeente, moes ons ook eerstehands ervaar hoe dit voel om nuut in ’n gemeente te wees.
Ek het vooraf besluit om doelbewus geen kritiese opmerkings oor die gemeente te maak nie. Ou dominees wat aftree, kan ’n pyn wees. Daar is mos ’n spreekwoord van die hen wat rondloop en kekkel terwyl die ander hoenders die eiers lê!
Selfs oor die seer-oog-matte met hulle waterskade het ek aanvanklik niks gesê nie en liewers probeer raaksien wat goed is. En daar was baie. Die gemeente het twee goeie dominees gehad. Lizl-Louise se kwaliteit menswees en afgeronde leierskap het my dadelik opgeval. Wynand se vriendelikheid en besondere slag met die klein kinders ook.
Ek het wel gewonder oor die kerkklok wat nie lui nie. Aanvanklik het ek net grappies daaroor gemaak. “Wat is ’n kerk sonder ’n kerkklok?” was die diep teologiese vraag wat ek so nou en dan in die midde van die predikante gelaat het.
Een gebruik wat ek glad nie geken het nie, was die sjokolade vir dié wat verjaar of iets besonders vier. Baie gemeentes doen dit, maar by Monumentpark het dit vir my mettertyd méér geword as net ’n lekkerte en ’n vriendelike verjaarsdagwens. Want wanneer iemand vorentoe kom om ’n sjokolade te haal, deel ons vir ’n oomblik iets van mekaar se lewe. Daar is min dinge so inspirerend soos ’n kind wat kom sê: “Dit is hierdie week my doopverjaarsdag!”
Ek onthou ook die ouma wat een Sondag twee sjokolades kom haal het. Haar rede: “My eerste kleinkinders word hierdie week gebore. ’n Tweeling. Bid vir hulle!” Toe word die sjokolade-ritueel net daar ’n woordelose gebed. Skielik was dit nie meer net twee sjokolades nie. Ons het vir ’n oomblik saam met ’n ouma gewag op twee klein mensies wat op pad was.
Dit bly vir my elke Sondag besonders. Dalk is dit die spontaniteit en egtheid daarvan. Mense kom haal ’n sjokolade omdat hulle verjaar, ’n huweliksherdenking vier of iets besonders beleef — en sonder ’n lang storie sê ons eintlik vir mekaar: Jou lewe maak saak. Jou vreugde behoort ook ’n bietjie aan ons.
Sondag gaan ek ook ’n sjokolade haal. Want twee dae later, op 1 September, vier ek een van die beste keuses van my lewe: die dag toe Mari en ek getroud is.
Of sý ook ’n sjokolade gaan kom haal? Ons sal maar moet wag en sien.
Dr. James Kirkpatrick
BEDIENINGS NUUS


Erediens
Erediens: Sondag, 30 Augustus 2026, 9:00vm.
Prediker: Dr. James Kirkpatrick
Aanlyn skakel vir die regstreekse uitsending.
Aanlyn bydraes:
Klik HIER om 'n bydrae te maak op Snapscan
GELOOFSVORMING

Bybelstudie en Groeigroep

Bybelstudie: Ons kom weer bymekaar op 2 September om 09:00 in die Jeugsaal.
Groeigroep: Sien julle Woensdag, 2 September, 18:00 in die Konferensielokaal.
Kleuterkerk en Jeuggroepe
Hierdie komende Sondag staan ons stil by Esegiël 47:1-12.
Indien jy en/of jou gesin in die komende week verder hieroor wil nadink en saam gesels, kan julle van die volgende huisgeloof gebruik maak:
Huisgeloof
Gesels saam:
Wat is die grootste “comeback” wat jy al gesien het? Dit kan in sport, ’n fliek, ’n reeks, ’n wedstryd, ’n speletjie of in regte lewe wees.
Lees saam:
Esegiël 47:1–12
Dink saam:
· Wat het jou die meeste opgeval in Esegiël se visioen?
· Hoekom dink julle begin die rivier by die tempel?
· Wat gebeur oral waar die rivier vloei?
· Waar is daar op die oomblik “droë plekke” in ons wêreld wat hoop en nuwe lewe nodig het?
Doen saam:
Soek saam op Google na foto’s van: “Atacama Desert before and after rain” Kyk eers na die droë woestyn en daarna na die landskap wanneer die blomme verskyn.
Sou julle geglo het dat al hierdie lewe moontlik was toe julle net die droë grond gesien het?
Sluit af met gebed.
Verbintenisgroep:
Ons sien mekaar hierdie Sondag om 18:00 in die Jeugsaal. Hierdie week gesels ons oor lyding en swaarkry. Sien julle Sondag!
Jong Volwassenes Selgroep
Ons sien mekaar weer Dinsdag, 8 September om 18:30 vir ons volgende selgroep.

Vir meer inligting, sluit gerus HIER by ons WhatsApp-groep aan.
ADMINISTRASIE

Vergaderings
Die Wild en Wakker Lentefees-vergadering is op 1 September 2026 om 18:00 in die konferensielokaal.
UITREIK

Spens-projek


SORG

Wild en Wakker Lentefees
Die Wild & Wakker Lentefees

By die Wild & Wakker Lentefees wag daar lekker kos en hope pret vir die hele gesin!
Bring die familie, nooi jou vriende en kom geniet ’n lekker lente-kuier saam met ons! Die kaartjieverkope vir die heerlike driegang-ete sluit op 1 September – moenie uitmis nie!
📅 5 September 2026
📍 NG Monumentpark
Geniet ook stalletjies, kinderaktiwiteite, ’n veiling, lekker eetgoed en nog baie meer!



Kaartjie verkope sluit 01 September.
6 September Lentesangdiens en Pretoria Mannekoor

Noot vir Nood

SINODEBRIEF
Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):

Die mees onlangse Noordelike Sinode nuusbrief is HIER besikbaar.
SLOTBOODSKAP
Slotboodskap
Soms lê die mooiste oomblikke juis in die klein dinge wat ons as gemeente saam beleef en vier. Mag die aanbreek van lente ons herinner aan nuwe lewe, nuwe hoop en die vreugde daarvan om saam te behoort. Ons sien baie uit daarna om saam met julle ons Wild & Wakker Lentefees en Lentesangdiens te vier.
Tot volgende keer!
Ds. Lizl-Louise Schoeman
