
iM-pak Nuusbrief 24 Oktober


iM-pak Nuusbrief 24 Oktober
In hierdie uitgawe van iM-pak:
• Brief: Dr. James Kirkpatrick
• Dankbaarheidsmaand: Erediens Dr. James Kirkpatrick, 26 Oktober om 09h00.
• Geloofsvorming
• Vakansieprojek: 6–9 Oktober 2025
• Nuwe lidmaat kuier
• Bottel-en-bord
BRIEF
Projek Logos
Ek werk tans aan ’n restourasieprojek wat bekend staan as Projek Logos. Dit is ’n projek waarin ons mishandelde woorde se woordwaardigheid probeer herstel. Dit is veral woorde uit ons geloofswoordeskat wat van betekenis gestroop word.
Terwyl ek in my studeerkamer sit en voorberei vir Sondag se diens, is daar ’n klop aan die deur. In die deur staan ’n pragtige meisie, maar sy is duidelik mishandel. Orals is daar blou kneusmerke op haar lyf sigbaar. Sy stel haarself voor as Seën. “Baie noem my Blessed”, sê sy. Nog voor ek enige iets kon vra, loer nog ’n persoon om die hoek. Hy lyk vol energie, maar ook het hy duidelik al deurgeloop onder mense wat hom wou uitbuit. “Ons hoor jy preek Sondag in Monumentpark. Wil jy nie asseblief vir hulle vertel van ons nie? Sê vir hulle dat ons hulle kan help op hulle lewenspad. Maar dan moet jy vir hulle sê wie ons regtig is!” Ek belowe toe plegtig dat ek dit sal doen.
Hier is ’n teks uit Numeri 6 waar Seën se naam voorkom:
24 “Mag die Here jou seën en jou beskerm.”
25 “Mag die Here Sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees.”
26 “Mag die Here Sy aangesig na jou toe oplig en aan jou vrede gee.”
27 “So moet hulle My Naam op die Israeliete lê, dan sal Ek self hulle seën.”
“Seën” word bykans sonder onderskeid deur mense uitsluitlik met voorspoed verbind. “I am so blessed” – en dan volg die wonderlike dinge wat met hulle gebeur het. In die boek Numeri is dit glad nie die geval nie. Hier, aan die begin van Israel se reis deur die woestyn, staan die seënbede. Die boek se Hebreeuse naam is selfs Bamidbar (in die woestyn). Hulle gaan wonderlike hoogtepunte beleef, maar ook diep laagtepunte. By die hoogte- en laagtepunte moet die priesters die seën oor hulle uitspreek. En die seën beteken – God belowe om in die hoogtepunte en donker tye by hulle te wees. Ons sou die teks in Numeri eenvoudig kon vertaal met:
Ek sal by julle wees
Ek sal by julle wees
Ek sal by julle wees.
God bly met julle – in voorspoed en teëspoed. Ons enigste troos in lewe en sterwe is dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan God. Seën het gevra ek moet julle herinner daaraan dat God se naam ook Immanuel is. God met ons.
Nou moet ek klaarmaak, maar Hoop sal bitter teleurgesteld wees as ek nie ook oor hom iets sê nie. Hy sê mense verwar hom dikwels met Optimisme wat op die oog af na hom lyk. Dit is ’n fout. Hy is totaal iets anders. Uniek. Hoop en Seën is familie. Hoop sê: “Ek sal nie opgee nie. Môre gaan ek weer probeer. Ek ken vir Seën. God is by my.”
Seën en Hoop reis saam met ons. Waardeer hulle vir wie hulle regtig is.
Dr. James Kirkpatrick
BEDIENINGS NUUS

Erediens
Ons vier hierdie maand as Dankbaarheidsmaand – ’n tyd om stil te staan en dankbaar te wees vir alles wat ons ontvang.

Sondag 26 Oktober om 09h00: Erediens: Rom 12:1-2
Prediker: Dr. James Kirpatrick
Aanlyn skakel vir die regstreekse uitsending.
Klik HIER om 'n bydrae te maak op Snapscan.

Geloofsvorming
Bybelstudie
Groeigroep
Kleuterkerk en Jeuggroepe
Sondag, 26 Oktober: Kleingroepafsluiting, Kleuters-Gr10
Kerssangdiens oefeninge – Familiesaal
(Kleuters tot Graad 6)
Oefeninge:
o 2 November
o 9 November
o 16 November
🎤 Optrede: 23 November – tydens die Kerssangdiens

Bedieningsvergaderings


Moncare
🌿 MonCare Vakansieprojek: 6–9 Oktober 2025
Die vyfde MonCare-vakansieprojek was ’n groot sukses! Ses graad 7-dogters uit die Wolmer-omgewing het vier spesiale dae saam met die span geniet.
Benewens die pret het die week ook gefokus op emosionele groei, gesonde grense en selfrespek. Die dogters is toegerus met praktiese lewensvaardighede en waardevolle ondersteuning.
Baie dankie aan elkeen wat bygedra het met kos, lekkernye, donasies en hulp. Julle omgee maak ’n reuse verskil in hierdie kinders se lewens. Ons deel graag hierdie week weer ’n paar foto's van die onvergeetlike dae vol lag, pret en mooi herinneringe!
Petro Barnard










Nuwe Lidmate Kuiergeleentheid
Ons nuwe lidmate-kuier wat verlede Sondag plaasgevind het, was werklik ’n wonderlike en geseënde geleentheid! Baie dankie aan almal wat dit bygewoon het en die oggend só besonders gemaak het.
Dit was só lekker om saam te kuier, en ons sien reeds uit na die volgende geleentheid. Die wat hierdie keer gemis het, sal beslis weer ’n kans kry om volgende keer saam te kuier.


Bottel en Bord – 6 November 2025 om 18:00
Trek jou dagboek nader, want Prof. Roland Henwood kom gesels. Tema: Die konteks waarin ons leef.
Almal is baie welkom. Bring jou eie eet- en drinkgoed en geniet ’n aangename aand saam met Roland.
Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):

Lees die Noordelike Sinode se weeklikse nuusbrief HIER
Slotparagraaf
Terwyl ons iM-pak #28 afsluit, word ons herinner dat God altyd met ons is. Seën en Hoop reis saam met ons en herinner ons daaraan dat ons aan God behoort. Deur eredienste, projekte en ontmoetings groei ons in geloof. Mag ons liefde en geloof elke dag uitleef en God se teenwoordigheid raaksien en ervaar.
Tot volgende keer!
Ds. Lizl-Louise Schoeman
