
iM-pak Nuusbrief 22 Mei


In hierdie uitgawe van iM-pak:
• Brief: Ds. Lizl-Louise Schoeman
• Eredienste
• Geloofsvorming
• Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil)
Brief
Die baie gestaltes van ma-wees
Die pen van Dalene Matthee teken in Fiela se kind ’n landskap van ma-wees soos min. Ons onthou die driejarige, rammelende wit weggooikind op haar stoep in die Langkloof. Fiela Komoeti het nie vasgekyk in sy velkleur of sy herkoms nie. Sy was hom, voed hom en gee vir hom 'n naam: Benjamin.
Vir Fiela is moederskap 'n heilige opdrag. Sy maak hom groot as háár kind, op gelyke voet met haar eie kinders. Wanneer die sensusmanne hom later kom wegvat, veg sy nie vir 'n "pleegkind" of 'n "grootmaakkind" nie – sy veg vir haar eie. Sy het hom nie self gedra nie, maar sy is sy ma.
Selfs wanneer Benjamin as volwasse man met sy eie storms worstel en sy identiteit diep in die Bos gaan soek, bly Fiela se huis en haar gebede sy anker. Sy herinner hom – en hulleself – aan 'n groot waarheid:
"Ek sal nie ophou om die Here te herinner aan my kind nie. 'n Ma se gebed loop agter haar kind aan, al is hy in die diepste bos en al weet hy self nie meer watter kant toe nie."
Hierdie Meimaand besef ons weer: die kring van ma-wees is wyd en groot. Ma-wees het verseker meer met die grootte van jou hart te doen as bloot DNS.
Daar is vandag plek in ons midde vir elke gestalte daarvan:
• Die enkelma wat alleen die mas opkom.
• Die geskeide ma wat verskillende wêrelde probeer balanseer.
• Die ma wat ’n kind aan die dood afstaan.
• Die vrou wat graag ’n ma wou wees, maar nooit kon nie.
• Die een wat nooit self ’n kind gedra het nie, maar met die oortuiging van ’n ma sorg en liefhet.
• Die pleegma, die ouma, die skoonma en die stiefma.
• Die tannie, vriendin, onderwyseres of buurvrou wat iemand anders se kind help dra wanneer die lewe swaar raak.
Dankie vir die duisend klein dinge wat niemand sien nie.
Dankie vir die vashou en aanhou probeer.
Dis ’n wye en groot kring, maar ons kring sal onvolledig bly as ons hier ophou. In hierdie kring is daar ook ’n plek vir elke ma wat nie meer hier is nie. Vir hierdie ma’s maak ons die kring groter. Want hulle leef steeds voort: in die stories wat ons vertel, die herinneringe wat ons koester, die liefde wat ons vir hulle in ons harte hou.
Dankie aan elkeen in hierdie kring. Ons onthou julle. Ons vier julle vandag.
Dankie ma!
Ds. Lizl-Louise Schoeman
Lees gerus die onderhoud in die Kerkbode
BEDIENINGS NUUS

Erediens

Erediens: Sondag, 24 Mei 2026, 9:00vm.
Prediker: Ds. Lizl-Louise Schoeman
Aanlyn skakel vir die regstreekse uitsending.
Aanlyn bydraes:
Klik HIER om 'n bydrae te maak op Snapscan


Waterkloof Marina-kuiergeleentheid
Lidmate wat woonagtig is in Waterkloof Marina word hartlik uitgenooi na ’n gesellige kuier by NG Kerk Monumentpark op 24 Mei 2026, direk ná die erediens. Kom kuier saam met ons in die Jeugsaal, ons sien uit daarna om julle daar te verwelkom!

Kleuterkerk en jeuggroepe
Hierdie komende Sondag staan ons stil by Genesis 1:1–2:4.
Indien jy en/of jou gesin in die komende week verder hieroor wil nadink en saam gesels, kan julle van die volgende huisgeloof gebruik maak:
Huisgeloof
Gesels saam:
Wie se kamer raak die vinnigste deurmekaar, en wie in julle huis hou die meeste van netjies wees?
Dit is baie makliker om chaos te maak as om iets mooi en goed te skep. In Genesis 1 sien ons hoe God orde, lewe en skoonheid bring waar daar chaos was.
Lees saam:
Lees Genesis 1:1–2:4
Dink saam:
* Wat tref julle in die skeppingsverhaal?
* Hoe bring God orde in dit wat eers deurmekaar was?
* Wat sê dit vir ons oor wie God is?
* Aan die einde van elke skeppingsdag sien God dat dit goed is. Wat beteken dit vir hoe ons na die wêreld en ons eie lewe kyk?
Doen saam:
Gesels saam oor een klein verandering wat hierdie week meer rus of orde in julle huis kan bring. Kies iets eenvoudig en realisties, en probeer dit hierdie week saam inoefen.
Sluit af met gebed.
Verbintenisgroep
Ons kom weer hierdie Sondag, 24 Mei, in die Jeugsaal bymekaar en ons gaan saam gesels oor die nagmaal.

Jong Volwassenes Selgroep
Op 19 Mei het ons pannekoek gebak, lekker gekuier en baie gelag! Ons volgende samekoms is Dinsdag, 2 Junie - ons sien julle daar!




As jy meer wil weet, sluit gerus HIER aan by die WhatsApp-groep.

Bedieningsvergaderings
• Kerkraadsvergadering: 26 Mei 2026 om 18:00 in die Familiesaal.
Uitreik


Bottel-en-Bord
Dis weer tyd vir Bottel-en-Bord!
Kom kuier saam met ons op 28 Mei om 18:00 in die Jeugsaal. Dr. Theuns Eloff is die gasspreker vir die aand. Bring jou eie eet- en drinkgoed, asook eetgerei en kom geniet ’n gesellige aand saam. Rsvp. asb. by die kerkkantoor teen 26 Mei.

Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):

Die mees onlangse Noordelike Sinode nuusbrief is HIER besikbaar.
Slotboodskap
Mag ons altyd onthou dat liefde nie net in groot gebare leef nie, maar in die daaglikse omgee vir mekaar. Soos Fiela se liefde vir Benjamin, laat genade altyd spore van hoop agter.
Mag elkeen ’n geseënde week vol vrede, hoop en nuwe moed beleef.
Tot volgende keer!
Ds. Lizl-Louise Schoeman
