Impak Nuusbrief

iM-pak Nuusbrief 18 September

September 18, 2026•7 min read
in ons gemeente

loodglas

BRIEF

Brief

Laat weet as jy veilig is.

Klik. Die motordeure sluit. ’n Uber se registrasienommer word aangestuur. ’n Ligging word gedeel. Iemand gaan draf met ’n foon byderhand.

En iewers volg die bekende boodskap: “Laat weet as jy veilig is.” Ons doen ’n merkwaardige hoeveelheid dinge net vir ingeval.

Ons parkeer nader. Ons loop saam motor toe. Ons kyk twee keer. Ons maak seker. Dit voel nie eens meer buitengewoon nie. Dit is maar wat ’n mens doen. En miskien is dit juis wat vreemd is: hoe normaal dit geword het.

Die afgelope tyd lees ons van nege vroue wat dood is. Nege name wat vir ’n oomblik in nuusberigte en gesprekke verskyn. Maar ons weet ook dat die getal nie daar begin of eindig nie. Elke dag sterf mense aan geweld in Suid-Afrika. Sommige se name ken ons. Ander verdwyn tussen die syfers van nog ’n verslag.

Nege sterftes trek ons aandag. Vir ’n ruk voel die omvang daarvan weer onmoontlik om te ignoreer. Maar dit gebeur teen die agtergrond van geweld wat lankal deel van ons daaglikse werklikheid geword het. En ’n mens raak vreemd genoeg gewoond aan dinge waaraan jy nooit gewoond behoort te raak nie. Nie omdat dit jou nie meer pla nie, maar omdat die lewe eenvoudig voortgaan.

So leer ons nie noodwendig om minder bang te wees nie. Ons leer net hoe om ons lewens rondom die risiko te organiseer. Dit is waarskynlik waarom soveel van ons veiligheidsmaatreëls nie meer soos veiligheidsmaatreëls voel nie. Dit is bloot gewoontes. Dinge wat jy doen sonder om veel daaroor te dink.

Daarmee saam skuif iets ongemerk in ons verwagtinge. Veiligheid word iets waarvoor jy self moet voorsiening maak: wees wakker, beplan vooruit, maak seker iemand weet waar jy is. Dit is goeie raad. Noodsaaklike raad, selfs. Maar dit behoort ons steeds te pla dat dit so nodig is.

Die Bybel het ’n woord vir die teenoorgestelde hiervan: shalom. Nie bloot vrede omdat niks slegs gebeur nie, maar heelheid, veiligheid en die ruimte om voluit te leef. Dit is die soort vrede waarna ons verlang: dat vroue (en mans) nie bloot beter hoef te leer hoe om onveiligheid te vermy nie, maar in vrede kan leef.

Ons gaan nie môre ophou om versigtig te wees nie. Ons gaan steeds vir mekaar uitkyk. En daardie bekende boodskap sal waarskynlik weer op iemand se skerm verskyn: “Laat weet as jy veilig is.”

Maar het ons dalk te goed geraak daarmee om die buitengewone as doodgewoon te hanteer?

Aldi Serfontein


BEDIENINGSNUUS

diens

Preek grafika

Erediens

Erediens: Sondag, 20 September 2026, 9:00vm.

  • Prediker: Aldi Serfontein

  • Aanlyn skakel vir die regstreekse uitsending.

Aanlyn bydraes:

  • Klik HIER om 'n bydrae te maak op Snapscan


GELOOFSVORMING

geloofsvorming

Bybelstudie en Groeigroep

Kleuterkerk en Jeuggroepe

Huisgeloof

Hierdie komende Sondag sluit ons af vir die kwartaal en staan ons stil by Jona 4:1–11.

Indien jy en/of jou gesin hierdie week saam ’n oomblik wil stil word, kan julle van die volgende Huisgeloof gebruik maak.

Gesels saam:

Ons gebruik soms uitdrukkings soos:

“Wat jy saai, sal jy maai.”

“Die wiel draai.”

“Hy/sy sal nog kry wat hom/haar toekom.”

  • Wat dink julle beteken hierdie uitdrukkings?

  • Het jy al gevoel iemand verdien die gevolge van wat hulle gedoen het?

  • Hoe voel dit wanneer iemand nié kry wat jy dink hulle verdien nie?

Lees saam:

Jona 4:1–11.

Jona het na Nineve gegaan en God se boodskap verkondig. Die mense het daarop gereageer en hulle verkeerde optrede laat staan. God het hulle gespaar. Maar Jona was kwaad.

Hy sê vir God dat hy geweet het dit sou gebeur, omdat hy weet dat God genadig, barmhartig, geduldig en vol liefde is.

Dink saam:

  • Waarom dink julle was Jona kwaad toe God Nineve gespaar het?

  • Hoekom is dit soms makliker om genade vir onsself te aanvaar as om dit vir iemand anders te gun?

  • Beteken genade dat dit wat iemand verkeerd gedoen het skielik nie meer saak maak nie?

  • Is daar mense teenoor wie jy dit moeilik vind om geduldig of genadig te wees?

Doen saam:

Kry ’n vel papier en trek ’n groot sirkel daarop.

Skryf binne-in die sirkel die name of beskrywings van mense vir wie dit vir jou maklik is om liefde en genade te wys - familie, vriende of mense met wie jy goed oor die weg kom.

Dink dan aan mense wat jy eerder buite die sirkel sou wou hou. Julle hoef nie name neer te skryf of hardop te sê wie dit is nie. Trek nou die sirkel groter.

Sluit af met gebed.


Verbintenisgroep

Die Verbintenisgroep kom Sondagaand, 20 September, om 18:00 vir die laaste keer saam in die Jeugsaal.


Jong Volwassenes Selgroep

Ons sien mekaar weer Dinsdag, 22 September, om 18:00 vir ons Pizza & Wynaand!

Vir meer inligting, sluit gerus HIER by ons WhatsApp-groep aan.


ADMINISTRASIE

administrasie

Vergaderings

Daar sal geen vergaderings hierdie week wees nie.

Neem asseblief kennis:

Die kerkkantoor sal op 24 en 25 September gesluit wees.


UITREIK

uitreik

Spens-projek

spens-projek

Vakansieprojek: 28 September 2026 – 1 Oktober 2026.

Dié projek sal die negende vakansieprojek wees wat deur MonCare fasiliteer word. Dit is ook die laaste vakansieprojek vir 2026.

Doel van die projek

Die doel van die projek is tweeledig – eerstens word aan kinders die geleentheid gegee om uit hulle eie omgewing en in ‘n veilige omgewing net weer te kan kind wees. Die kinders word blootgestel aan aktiwiteite wat hulle geniet en hulle word bederf met twee heerlike maaltye per dag asook lekkernye, vrugte en koeldrank deur die loop van die dag. Terselfdertyd het die program ook ‘n voorkomende / terapeutiese fokus – die kinders word ondersteun in die verwerking van trauma waaraan hulle blootgestel was, hulle word ook toegerus met kennis om gesonde grense in stand te hou, verhoudingsvaardighede word ontwikkel, aandag word gegee aan die vestiging van gesonde selfbeeld en leiding word gegee ten opsigte van die voorkoming van alkohol- en dwelmmisbruik asook die voorkoming van tienerswangerskappe.

In die lig van die doel van die program word daar beoog om agt graad sewe dogters te betrek sodat voldoende individuele aandag aan elke kind gegee kan word.

Teikengroep

Die kinders wat betrek word by die projekte is woonagtig in die noorde van Pretoria. (Daspoort omgewing) Hulle is blootgestel aan negatiewe omgewingsfaktore. Die kinders se ouers is dikwels werkloos en finansiële probleme is ‘n gegewe. Die kinders is daarom deel van hulle skole se voedingsprojekte. Substansmisbruik, enkelouerskap, oorbewoning, gesinsgeweld en ander maatskaplike probleme is ‘n deel van die kinders se realiteit. Dit is vir dié rede wat ons aan die kinders ‘n geleentheid wil gee om in ‘n veilige omgewing net weer te kan kind wees. Die kinders wat aan die projek gaan deelneem word deur die skool identifiseer as hoë risiko kinders en word terapeuties ondersteun deur Me Karin Louw, Maatskaplike Werker, CMR Daspoort.

Behoeftes

Indien u die projek wil ondersteun of enige navraag het kontak asseblief vir Petro Barnard, MonCare, 0825721469.

MonCare bedank ook graag die gemeente vir hulle volgehoue ondersteuning van die vakansieprojekte. Sonder die ondersteuning sou dit nie moontlik gewees het om die projekte aan te bied nie. Dit maak werklik ‘n verskil vir die kinders.

SORG

Wild en Wakker Lentefees

Die Wild & Wakker Lentefees

Neem asseblief kennis dat die Wild-en-Wakker Lentefees op Saterdag 10 Oktober 2026 plaasvind.

Dit gaan ’n onvergeetlike dag wees en ons sien uit daarna om jou op 10 Oktober te verwelkom!

🎟️Kaartjieverkope is steeds oop!

Custom HTML/CSS/JavaScript


Dankbaarheidsmaand


SINODEBRIEF

Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):

noordsin

Die mees onlangse Noordelike Sinode nuusbrief is HIER besikbaar.


SLOTBOODSKAP

Slotboodskap

Ons is hierdie week herinner aan die waarde van veiligheid, genade en omgee vir mekaar. Met die kwartaal wat afsluit, wens ons almal ’n wonderlike tyd van asem skep en rus toe.

Tot volgende keer!

Ds. Lizl-Louise Schoeman

Custom HTML/CSS/JAVASCRIPT
Back to Blog