
iM-pak Nuusbrief 17 April


iM-pak Nuusbrief 10 April
In hierdie uitgawe van iM-pak:
• Brief: Dr. James Kirkpatrick
• Eredienste
• Geloofsvorming
• Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil)
Om moeilik en maklik te glo
Verlede Sondag het Aldi se preek gefokus op die figuur van Nikodemus. Komende Sondag is dit Tomas se beurt. Toe ons Dinsdag as predikantespan saam dink oor Lizl-Louise se Tomas-preek het dit my opgeval dat die twee manne iets in gemeen het. Hulle het albei gesukkel met geloof. Soveel so dat Nikodemus as nagdissipel beskryf word en Tomas selfs sy plek gekry het in die Afrikaanse beskrywing van iemand as “ongelowige Tomas”. Geloof het nie vir hulle maklik gekom nie.
Ek is so dankbaar dat daar sulke gelowiges in die Bybel is en identifiseer maklik met hulle. Ek wonder nog altyd wat dit beteken as mense iemand as ʼn “groot gelowige” beskryf. Wanneer sou mens kwalifiseer as ‘n groot gelowige? Is dit wanneer jy van alles seker is en antwoorde op alle vrae het? Of is dit mense wat geen vrae vra nie en alles net so aanvaar? As dit so is wil ek nie graag ʼn groot gelowige wees nie. Ons het as kollegas lank daaroor gepraat en het konsensus dat ons eerder n geloofsgemeenskap wil wees waar vrae en onsekerheid welkom is. Ons wil ʼn gemeente wees wat nadenkend met geloof omgaan en nie alles vir soetkoek opeet nie.
Wat opval is die manier waarop Jesus met Nikodemus en Tomas omgaan. Hy maak dit vir die twee wat moeilik glo eintlik maklik om te glo! Hy help Nikodemus om weg te breek uit die klomp sekerhede van die Fariseërs en hom toe te vertrou aan God wat die nuwe lewe van bo af gee (Joh 3). Tomas word nader genooi en verwoord ʼn aangrypende geloofsbelydenis “My Here en my God!”
Dit lyk my dit is oukei om te sukkel met geloof. Dankie tog, daar is vir ons klein gelowiges ook ʼn plekkie in God se son.
Dr. James Kirkpatrick
BEDIENINGS NUUS

Erediens
Erediens: Sondag, 19 April 2026, 9:00vm.
Prediker: Ds. Lizl-Louise Schoeman
Aanlyn skakel vir die regstreekse uitsending.
Aanlyn bydraes:
Klik HIER om 'n bydrae te maak op Snapscan.

Geloofsvorming
Bybelstudie
Ons kom weer bymekaar op Woensdag 22 April om 09:00 in die Jeugsaal. Hierdie week lees ons uit Johannes 20:24-29 en staan stil by Tomas se twyfel - en hoe Jesus hom juis daar ontmoet.
Groeigroep
Jy is welkom!
Woensdae om 18:00 in die Konferensielokaal. Kom gesels saam, word bemoedig en groei saam as gelowiges.
Tweede kwartaal - Bedryf 3 (Openbaring 12-22): God deur Jesus Christus teenwoordig in die geskiedenis, wat uitloop op Christus se wederkoms as die klimaks waarheen alles en almal op pad is.
"Kyk, Ek kom gou!"
Kleuterkerk en jeuggroepe
Hierdie komende Sondag staan ons stil in die skoene van Tomas ná die opstanding.Indien jy en/of jou gesin in die komende week verder hieroor wil nadink en saam gesels, kan julle van die volgende huisgeloof gebruik maak:
Huisgeloof
Gesels saam:
Dink aan ’n tyd wat jy onseker was oor iets belangrik. Wat het jy toe gedoen - het jy daaroor gepraat, dit weggesteek, of net aangegaan?
Lees saam:
Lees Johannes 20:19-31
Dink saam:
* Tomas het die bynaam “Twyfelende Tomas” gekry. Is dit ’n regverdige naam vir hom? Hoekom of hoekom nie?
* Wat doen Tomas wanneer hy Jesus uiteindelik sien?
* Hoe reageer Jesus op Tomas se twyfel - met oordeel of met geduld?
* Wanneer het jy al getwyfel oor iets wat vir jou belangrik is (dit hoef nie geloof te wees nie)? Wat het jou gehelp?
Doen saam:
Nadat julle Tomas se verhaal gelees het en ook kortliks oor julle eie vrae en twyfel nagedink het, vra vir mekaar:
- Hoe voel jy nou oor twyfel en vrae? Sien jy dit as iets negatief, of kan dit ook ’n plek van groei wees?
- Wat leer Jesus se reaksie op Tomas vir ons oor hoe Hy na ons twyfel kyk?
Sluit af met gebed.
Verbintenisgroep
Hierdie komende Sondag, 19 April, om 17:00, gaan ons voort met die individuele gesprekke met Ds. Lizl-Louise en Dr. James.
Jong Volwassenes Selgroep
Ons volgende byeenkoms is op 21 April om 18:30 in die Konferensielokaal. Kom gesels saam oor: “Koffiewinkels en die Kerk: Meer in gemeen as wat jy dink?”
As jy meer wil weet, sluit gerus aan op die WhatsApp-groep: https://chat.whatsapp.com/BKi8BDMkangDmXU4H223Ki?mode=gi_t

Bedieningsvergaderings
Daar sal geen vergaderings hierdie week plaasvind nie.
Uitreik
MonCare is ’n kragtige dryfveer van omgee en ondersteuning in ons gemeenskap - ’n plek waar mense nie net raakgesien word nie, maar werklik gehelp en bemagtig word. Deur ’n holistiese benadering wat liggaamlike, emosionele en praktiese nood aanspreek, bou MonCare daagliks aan ’n sterker, meer veerkragtige gemeenskap. Hierdie is die eerste van 'n reeks waar ons ’n oorsig deel van die betekenisvolle werk en impak wat deur hierdie waardevolle bediening moontlik gemaak word. Kliek HIER vir die eerste MonCare aflewering van MonCare Nuus.
Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):
Lees gerus die Noordelike Sinode in die week se nuusbrief.

Lees die Noordelike Sinode se weeklikse nuusbrief HIER
Slotboodskap
Ons geloof groei juis waar daar ruimte is om te vra, te soek en te vertrou. Mag jy in die week wat voorlê God se nabyheid beleef – ook in jou vrae en onsekerhede.
Ons nooi jou om ook deur die week by ons groepe in te skakel en saam met ander op die geloofspad te bly groei.
Tot volgende keer!
Ds. Lizl-Louise Schoeman
