
iM-pak Nuusbrief 15 Mei


In hierdie uitgawe van iM-pak:
• Brief: Aldi Serfontein
• Eredienste
• Geloofsvorming
• Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil)
Brief
In 2024 het ek die voorreg gehad om Duitsland te besoek en een van die plekke wat my diep geraak het, was die East Side Gallery in Berlyn. Die East Side Gallery is die langste oorblywende deel van die Berlynse Muur - daardie muur wat vir byna drie dekades ’n stad, ’n land, en families van mekaar geskei het. Ná die val van die muur in 1989 is hierdie gedeelte omskep in ’n opelug-kunsgalery, waar kunstenaars van regoor die wêreld boodskappe van hoop, vryheid en menswaardigheid geskilder het.
Tussen al die kunswerke was daar een spesifieke muurskildery wat by my gebly het. Die woorde daarop lui:
"Many small people who in many small places do many small things that can alter the face of the world”.
Ons leef in ’n wêreld wat ons maklik kan laat voel dat net die groot dinge tel. Dat net die mense met groot platforms, groot invloede of groot besluite werklik ’n verskil maak. Tog herinner hierdie woorde ons daaraan dat betekenis nie noodwendig in die groot en dramatiese lê nie, maar dikwels in die klein en alledaagse.
As gemeente dra ons die leuse: Leef betekenisvol. Maar wat beteken dit werklik?
Miskien dink ons soms om betekenisvol te lewe is om iets buitengewoon te doen. Om ’n groot projek aan te pak. Om iets indrukwekkends te bereik. Maar dalk lê die betekenis daarvan veel nader aan die huis as wat ons besef.
Dit lê in die oproep wat jy maak aan iemand wat alleen is.
In die vriendelike woord aan ’n kassier. In die ete wat jy vir jou bure vat wat deur ’n moeilike tyd gaan. In die geduld waarmee jy na iemand luister. In die gebed wat niemand anders hoor nie.
Die East Side Gallery staan vandag as herinnering dat mure nie vir altyd bly staan nie. Dat verdeeldheid nie die laaste woord het nie. Dat hoop selfs op gebroke plekke kan groei.
En dalk is dit ook waar van ons eie lewens…
Om betekenisvol te leef beteken nie altyd om groot dinge te doen nie. Soms beteken dit eenvoudig om klein dinge met groot liefde te doen - presies daar waar God jou geplaas het.
Aldi Serfontein

BEDIENINGS NUUS

Erediens

Erediens: Sondag, 17 Mei 2026, 9:00vm.
Prediker: Dr. James Kirkpatrick
Aanlyn skakel vir die regstreekse uitsending.
Aanlyn bydraes:
Klik HIER om 'n bydrae te maak op Snapscan.



Waterkloof Marina-kuiergeleentheid
Lidmate wat woonagtig is in Waterkloof Marina word hartlik uitgenooi na ’n gesellige kuier by NG Kerk Monumentpark op 24 Mei 2026, direk ná die erediens. Kom kuier saam met ons in die Jeugsaal, ons sien uit daarna om julle daar te verwelkom!

Kleuterkerk en jeuggroepe
Hierdie komende Sondag staan ons stil by Romeine 8:12–17.
Indien jy en/of jou gesin in die komende week verder hieroor wil nadink en saam gesels, kan julle van die volgende huisgeloof gebruik maak:
Huisgeloof
Gesels saam:
Dink aan die spreekwoord: Wat die hart van vol is, loop die mond van oor. Wat beteken dit? Waaroor praat jy gewoonlik die meeste - en wat sê dit dalk oor wat in jou hart aangaan?
Lees saam:
Lees Romeine 8:12–17
Dink saam:
* Wat leer hierdie gedeelte ons oor wie ons is?
* Wat beteken dit om ’n kind van God genoem te word?
* As iemand hoor hoe jy praat of sien hoe jy leef, wat sou hulle dink staan uit van jou?
* Hoe kan die wete dat ons aan God behoort die manier waarop ons leef en met ander omgaan verander?
Doen saam:
Laat elkeen een woord noem wat hulle hoop hierdie week meer in hulle lewe sigbaar sal wees (byvoorbeeld liefde, vrede, geduld, vriendelikheid of hoop).
Sluit af met gebed.
Ouerleiding
Dr. Michiel van der Merwe kom spreek ouers en tieners toe op 17 Mei 2026, direk ná die erediens. Die teikengroep is tieners (Gr. 7 en ouer). Die onderwerp van die gesprek is: “Verslawing — dit kan nie in ons gesin gebeur nie?”
Die geleentheid is gratis. Ná die erediens kan ouers en tieners eers vinnig saam koffie geniet, waarna ons weer in die kerk bymekaarkom vir die praatjie.

Verbintenisgroep
Ons kom hierdie Sondag, 17 Mei om 18:00 in die Jeugsaal bymekaar. Hierdie week gesels ons saam oor die tema: Wat is genade?

Jong Volwassenes Selgroep
Ons volgende samekoms is op 19 Mei om 18:30 in die Konferensielokaal.

As jy meer wil weet, sluit gerus HIER aan by die WhatsApp-groep.

Bedieningsvergaderings
• Kerkraadsvergadering: 26 Mei 2026 om 18:00 in die Familiesaal.
Uitreik


Wild en Wakker lentefees
Die Wild en Wakker Lentefees vind vanjaar op 5 September plaas. Indien jy graag betrokke wil raak by die reëlings, kontak gerus die kerkkantoor.

Bottel-en-Bord
Dis weer tyd vir Bottel-en-Bord!
Kom kuier saam met ons op 28 Mei om 18:00 in die Jeugsaal. Dr. Theuns Eloff is die gasspreker vir die aand. Bring jou eie eet- en drinkgoed, asook eetgerei en kom geniet ’n gesellige aand saam. Rsvp. asb. by die kerkkantoor teen 26 Mei.

Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):

Die mees onlangse Noordelike Sinode nuusbrief is HIER besikbaar.
Slotboodskap
Betekenisvolle lewens word dikwels gebou deur klein dade van liefde. Mag ons aanhou om presies daar waar God ons geplaas het, lig en hoop te bring. Dankie vir elkeen se betrokkenheid en ondersteuning. Mag julle ’n geseënde week beleef.
Tot volgende keer!
Ds. Lizl-Louise Schoeman
