
iM-pak Nuusbrief 14 November


iM-pak Nuusbrief 14 November
In hierdie uitgawe van iM-pak:
• Brief: Ds. Lizl-Louise Schoeman
• Erediens: Ds. Lizl-Louise Schoeman, 16 November om 09h00.
• Geloofsvorming
• Dagboekhoogtepunte
• Kinderkersdiens
• Herinneringsdiens: 30 November
• Administrasie: Uitreik Vergadering
• Kersfeesprojek 2025
• Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):
BRIEF
Hierdie week het ek eerstehands beleef hoe die impak van korrupsie lyk. Die leierskap van die NG Kerk was vir drie dae saam by Emseni, waar ons veral gekyk het na die wêreld waarin ons leef. Een van die sake op die agenda was die kanker van korrupsie.
’n Bekende professor is genooi om met ons te praat — welbelese, goed geartikuleerd, gerespekteerd. Maar dit het anders uitgedraai as wat ek verwag het.
Prof. Anton van Niekerk is bekend as akademikus en rubriekskrywer. Die afgelope tyd dra hy ook ’n ander titel: ’n pa wat sy seun verloor het. Bouwer, ’n insolvensieprokureur, is koelbloedig in sy kantoor doodgeskiet terwyl hy verskeie korrupsiesake ondersoek het.
In sy diep, dreunende stem het prof. Anton die omvang van korrupsie beskryf — en toe breek iets oop. Die professor het ’n oomblik lank net ’n pa geword wat rou. Hy het sagter gesê: “Ek kan maar net Dawid se woorde aanhaal oor my kind: My seun Absalom, my seun, my seun Absalom! Ag, het ek maar in jou plek gesterwe …”
Ons was stil. Geraak. Bewus van ’n familie se onherstelbare verlies — en van ’n stuk toekoms wat van ons almal gesteel is.
Ons het vir mekaar gesê: Ons kan nie wegkyk nie.
Nie wanneer geregtigheid se prys só duur geword het nie.
Nie wanneer korrupsie gewone mense se lewens uitmekaar skeur nie.
As kerk van die Here staan ons saam téén onreg.
Maar net so belangrik: ons staan ook sáám met gebroke mense —
met families wat rou, en met almal wie se lewens deur korrupsie geraak word.
En is dit nie juis waaraan ons in Adventstyd herinner word nie?
Dat Jesus kom vir hierdie wêreld:
nie ’n perfekte een nie, maar ’n stukkende een wat smag na genesing.
Ds. Lizl-Louise Schoeman
BEDIENINGS NUUS

Erediens

Sondag 16 November om 09h00
Prediker: Ds. Lizl-Louise Schoeman
Aanlyn skakel vir die regstreekse uitsending.
Klik HIER om 'n bydrae te maak op Snapscan.

Geloofsvorming
Bybelstudie

Kleuterkerk en Jeuggroepe
Kerssangdiensoefentye:

Ons kategete van 2025 deel graag ‘n woordjie:
Elsa Prinsloo – Gr 9 en 10
Ek is Elsa Prinsloo, ek het self 3 dogters. Ek het 10 jaar terug met die oulikste, maar besigste, Graad 1 klassie met Geloofsvorming begin. Ek het 10 jaar terug gedink ek gaan vir hulle Jesus se liefde kom wys....maar dit was meer as dit. Dit is 'n pad wat mens met kinders stap en sien hoe hulle saam in hulle geloof groei, maar ook ontwikkel het in die wonderlikste jongmense. Dit was ongelooflik om met die groep tyd te kon spandeer. Ek gaan elkeen baie mis en hoop dat ons saadjies kon plant in hulle lewens wat verder sal groei.
Odette Pfeifer – Kleuterkerk

• Wie jy is: Ek is Odette en ‘n mamma van 3 kinders (Elizabeth (7), Alyssa (5) en Albert (3)) en al 16 jaar getroud met Eben.
• Waarom jy ’n kategeet geword het: Ek was so opgewonde toe Ds Wynand my nader om deel te word van die kategese. Ons as gesin wil graag dien waar ons kan en om deel te kon word van dien deur te leer was net ‘n groot voorreg. Die Here seën ons in oorvloed en om terug te kan gee is wonderlik.
• Wat die jaar vir jou beteken het / wat jy saam met die groep ervaar of geleer het. Dit was so ‘n heerlike jaar met sing en speel en leer en koes en keer saam met die kleuters. Om hulle te leer ken en die stories wat ons hoor week na week. Om te sien hoe hulle die geloofsbelydenis so goed begin ken het en uitgesien het daarna om dit saam Louisa op te sê. Saam Magda, Juan en Louisa was die jaar vol pret en plesier.
Wilando Ferreira – Graad 6-groep

“My naam is Wilando Ferreira, Graad 6 kategeet van 2025. Ek het 'n kategeet geword om terug te gee aan die die kerk, wat al soveel vir my beteken het in my lewe. Ek poog om 'n verskil te maak in jong mense se lewens, sodat hulle hulself en die wêreld beter kan verstaan, deur die perspektief van geloof. As dit nie vir die kategete in my lewe was nie, sou ek beslis nie vandag die mens gewees het wie ek is nie. Ek glo graag dat ek en die Graad 6'e saam gegroei het hierdie jaar. Ek het soveel van my Graad 6'e geleer en was heerlik uitgedaag deur al hulle vrae, van skoolwerk tot mense-verhoudinge tot die "regte lewe" beginsels, gebaseer in geloof. Ek het my gesprekke met die Graad 6'e vreeslik geniet en in die proses sommer self meer van die lewe geleer - voorwaar 'n hoogtepunt van my week!
Wat vir my bo alles uitgestaan het, is hoe die groep vashou aan geloof in al hulle gesprekke en antwoorde op vrae, en aktief poog om Jesus se liefde elke dag uit te leef aan ander en raak te sien in die wêreld om hulle. Ek is baie trots op elke Graad 6 met wie ek die voorreg gehad het om 'n pad te stap hierdie jaar. Ek kan nie wag om hulle weer te ontmoet in hulle Graad 7 jaar en hulle laaste laerskool-jaar met hulle te deel nie!”
Dagboekhoogtepunte:

23 November 2025, Kinderkersdiens: 9:00vm
Ons sien met groot opgewondenheid uit na die Kinderkersdiens op Sondag, 23 November.
Ons gemeente se kinders is reeds hard aan die oefen om ’n paar pragtige liedjies tydens die diens te sing. Kom geniet hierdie spesiale oggend saam met ons – ’n vreugdevolle viering van Kersfees deur die oë van ons kinders.

23 November 2025, Kerssangfees, 18:00
Ons sien baie uit na die aand van 23 November – ons Kerssangfees! Hierdie wonderlike geleentheid moenie misgeloop word nie. Dit beloof om ’n glinsterende viering van lig, musiek en saamwees te wees.

Herinneringsdiens: 30 November
Op 30 November hou ons ’n herinneringsdiens om spesiaal te dink aan geliefdes wat ons verloor het. Stuur gerus ’n foto saam met die besonderhede (naam, geboorte- en sterfdatum) na die kerkkantoor: [email protected]. Meer besonderhede volg later.


Bedieningsvergaderings


Kersfeesprojek 2025

Ons wil graag help om te verseker dat kinders wat gedurende die kwartaal by skole voedselhulp ontvang, ook in die vakansietyd ondersteun word. Daarom benodig ons asb nie-bederfbare produkte, toiletware en skryfbehoeftes – ’n klein gebaar wat ’n groot verskil kan maak.
Saam kan ons die Feesseisoen ’n verskil maak in gesinne se lewens.
-Petro Barnard-
Verjaarsdae
Baie geluk aan Ds. Willie van Heerden, wat op 13 November verjaar het, en ook aan Dr. James, wat op 15 November verjaar. Ons wens vir julle alles wat mooi is toe.
Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):

Lees die Noordelike Sinode se weeklikse nuusbrief HIER
Slotboodskap
In hierdie tyd van Advent stap ons saam in geloof, saam in hoop, en saam in die soeke na lig te midde van ’n gebroke wêreld. Mag ons altyd daar wees vir mekaar. Ons bid dat die Here ons gemeente se hande en harte sal gebruik om werklik ’n verskil te maak. Met die Kersseisoen wat voorlê, sien ons met groot verwagting uit na die Kinderkersdiens en Kerssangfees – wonderlike geleenthede waar ons saam die Feesseisoen binnegaan.
Tot volgende keer!
Ds. Lizl-Louise Schoeman
