
iM-pak Nuusbrief 13 Maart


iM-pak Nuusbrief 13 Maart
In hierdie uitgawe van iM-pak:
• Brief: Dr. James Kirkpatrick
• Eredienste
• Geloofsvorming
• Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil)
BRIEF
Plasebo of egte troos?
Die plasebo-effek is ’n bekende en goed nagevorsde verskynsel. Medisyne wat eintlik nie behoort te werk nie, werk omdat die pasiënt glo dit werk. Ek het dit die vakansie weer gesien met ons kleindogters. Ami stamp haar bobeen potblou teen die tafel, maar dit help as ons ’n Hallo Kitty-pleister op die bloukol plak. So kry ’n lekkertjie dit ook reg om trane op te droog. Kritici van godsdiens maak dikwels die bewering dat geloof in God en alles wat daarmee saamgaan eintlik net ’n soort plasebo verskynsel is. Neem nou byvoorbeeld die belofte van die hemel. Dit is niks anders as die lekkertjie wat die trane laat opdroog nie. Dit help mense met hulle seer. So kry hulle dit reg om bo-oor en verby die seer te kyk na die eendag wanneer alles sal reg wees. In plaas daarvan om hier en nou te leef word mense deur godsdiens gelei om hiernamaalsmense te word. Eendag in die hemel sal God ons trane afdroog.
Is dit die so? Deel die Christelike geloof lekkertjies uit vir mense wat huil? Lydenstyd help ons om hierop te antwoord. Die verhaal van Jesus is alles behalwe ‘n soet suikerklontjie vir mense met hulle seer. Dit is nie ’n verhaal vir eendag in die hemel nie. Dit is vir hier en nou, want dit vertel ons van die radikale identifikasie van God met mense se seer. Hy plak nie pleisters en deel lekkers uit nie. Hy ly saam en ter wille van mense. Spurgeon het gesê: “Die kruis drup nie van heuning nie, maar van bloed.” Waar is God as ons seerkry? By ons. In ons lyding. Dit is die genesende balsem vir ons wonde. Die afgelope paar weke het ons elke Sondag na en van Jesus se “Ek is” uitsprake geluister. Ons weet – Hy is by en in ons seerkry teenwoordig.
Mag die Lydenstyd vir elkeen van ons ’n troosvolle ervaring wees!

"Gedeelte van Matthias Grünewaldse Isenheim-altaarstuk (1512–1516)"
-Dr. James Kirkpatrick-
BEDIENINGS NUUS

Erediens

Erediens: Sondag, 15 Maart 2026, 9:00vm.
Prediker: Dr. James Kirkpatrick
Aanlyn skakel vir die regstreekse uitsending.
Aanlyn bydraes:
Klik HIER om 'n bydrae te maak op Snapscan.

Geloofsvorming
Bybelstudie en Groeigroep
BYBELSTUDIE
Tyd: Woensdae om 9:00
Plek: Jeugsaal
GROEIGROEP
Tyd: Woensdae om 18:00
Plek: Konferensielokaal
Kleuterkerk en jeuggroepe
Hierdie komende Sondag fokus ons op die laaste “Ek is”-uitspraak in Johannes, waar Jesus sê: “Ek is die ware wingerdstok.” Indien jy en/of jou gesin in die komende week verder hieroor wil nadink en saam gesels, kan julle van die volgende huisgeloof gebruik maak:
Huisgeloof
Gesels saam:
- Wie van julle vind dit die moeilikste om hulp te vra wanneer jy iets nie self regkry nie?
- Hoekom dink julle is dit soms so moeilik om te erken dat ons ander nodig het?
Lees saam:
Lees Johannes 15:1-8
Dink saam:
- Hoekom dink julle kies Jesus juis die beeld van ’n wingerdstok en takke?
- Wat beteken dit dat Jesus “die ware wingerdstok is”?
- Ons kultuur leer ons om onafhanklik te wees, om sterk te wees, om nie ander nodig te hê nie. Hoe verskil Jesus se woorde hiervan?
- Wat dink julle is die “vrug” waarvan Jesus praat? Watter eienskappe of dade wys dat iemand werklik aan Hom verbind is?
Doen saam:
Eet saam druiwe.
Terwyl julle dit eet, dink hieraan: ’n Druif is net soet en vol sap omdat dit aan die wingerdstok vas was. As dit van die stok losgeraak en op die grond gelê het, sou dit stadig uitdroog, suur word en sy lewe verloor. So ook met ons. Ons leef nie werklik wanneer ons op ons eie probeer regkom nie. Ons word lewendig, groei en dra vrug wanneer ons aan God verbind bly.
Verbintenisgroep en Matrieks
Hierdie Sondag, 15 Maart, om 18:00 kom ons weer bymekaar in die Jeugsaal. Ds. Lizl-Louise en Dr. James gaan saam met julle gesels en die aand lei.
Jong Volwassenes Selgroep
Ons volgende byeenkoms is die 24ste Maart om 18:30 in die Konferensielokaal. Kom kuier lekker saam!
As jy meer wil weet, sluit gerus HIER aan op die WhatsApp-groep.

Bedieningsvergaderings
Daar is geen vergaderings die week nie.
Uitreik
Vakansieprojek:30 Maart 2026 – 2 April 2026.
Dié projek sal die sesde vakansieprojek wees wat deur MonCare fasiliteer word.
Doel van die projek.
Die doel van die projek is tweeledig – eerstens word aan kinders die geleentheid gegee om uit hulle eie omgewing en in ‘n veilige omgewing net weer te kan kind wees. Die kinders word blootgestel aan aktiwiteite wat hulle geniet en hulle word bederf met twee heerlike maaltye per dag asook lekkernye, vrugte en koeldrank deur die loop van die dag. Terselfdertyd het die program ook ‘n voorkomende/ terapeutiese fokus – die kinders word ondersteun in die verwerking van trauma waaraan hulle blootgestel was, hulle word ook toegerus met kennis om gesonde grense in stand te hou, verhoudingsvaardighede word ontwikkel, aandag word gegee aan die vestiging van gesonde selfbeeld en leiding word gegee ten opsigte van die voorkoming van alkohol- en dwelmmisbruik asook die voorkoming van tienerswangerskappe.
In die lig van die doel van die program word daar beoog om ses graad ses dogters te betrek sodat voldoende individuele aandag aan elke kind gegee kan word.
Teikengroep.
Die kinders wat betrek word by die projekte is woonagtig in die noorde van Pretoria. (Wolmer area) Hulle is blootgestel aan negatiewe omgewingsfaktore. Die kinders se ouers is dikwels werkloos en finansiële probleme is ‘n gegewe. Die kinders is daarom deel van hulle skole se voedingsprojekte. Substansmisbruik, enkelouerskap, oorbewoning, gesinsgeweld en ander maatskaplike probleme is ‘n deel van die kinders se realiteit. Dit is vir dié rede wat ons aan die kinders ‘n geleentheid wil gee om in ‘n veilige omgewing net weer te kan kind wees. Die kinders wat aan die projek gaan deelneem is reeds deur die skool identifiseer as hoë risiko kinders en word terapeuties ondersteun deur Me Karin Louw, Maatskaplike Werker, CMR Daspoort.
Behoeftes.
Ons wenslys vir die projek sluit die volgende in:
·Vier oggende ontbyt vir ses dogters.
·Vier middagetes vir ses dogters.
·Vrugte, koeldrank en lekkernye vir vier dae.
·Skryfbehoeftes vir die kinders.
·Plakkers (“stickers”) en ander “craft” artikels wat tydens die projek deur die kinders gebruik kan word.
·Bederfpakkies bestaande uit persoonlike toiletware, skryfbehoeftes, lekkernye, ens. vir die dogters om aan die einde van die projek huistoe te neem,
Die kos en lekkernye wat aan die einde van die projek oorbly word verdeel en saam met die kinders huistoe gestuur.
Indien u die projek wil ondersteun of enige navraag het kontak asseblief vir Petro Barnard, MonCare, 0825721469.
MonCare bedank ook graag met groot dankbaarheid die gemeente vir hulle volgehoue ondersteuning van die vakansieprojekte. Sonder die ondersteuning sou dit nie moontlik gewees het om die projekte aan te bied nie. Dit maak werklik ‘n verskil vir die kinders.
Dit is weer tyd vir Bottel en Bord.
Kom luister saam wanneer Dr. Theo de Jager ons toespreek op 19 Maart om 18:00 in die Jeugsaal. Moenie hierdie interessante en insiggewende geleentheid misloop nie.
Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):
Lees gerus die Noordelike Sinode in die week se nuusbrief.

Lees die Noordelike Sinode se weeklikse nuusbrief HIER
Slotboodskap
Lydenstyd herinner ons dat God naby is – selfs deur moeilike tye. Mag hierdie tyd ons weer help om hoop te vind in Sy teenwoordigheid en ons herinner dat Hy elke dag saam met ons stap.
Dankie vir elkeen se betrokkenheid by ons gemeente. Mag die week wat voorlê vir julle gevul wees met vrede en seën.
Tot volgende keer!
Ds. Lizl-Louise Schoeman
