
iM-pak Nuusbrief 13 Februarie


iM-pak Nuusbrief 13 Februarie
In hierdie uitgawe van iM-pak:
• Brief: Dr. James Kirkpatrick
• Eredienste
• Geloofsvorming
• Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):
BRIEF
Woorde het Vlerke
Ek gesels die week met ʼn vriend wat in die VSA woon. Hy vertel hoe diep verdeeld die Amerikaanse samelewing is. Hy is deel van ʼn groep vriende wat al jare lank gereeld saam gholf speel en hegte bande het. Maar hulle kan nie oor Donald Trump praat sonder om vir mekaar kwaad te word nie. Hy was stom verbaas om te hoor dat jy ook nie in Suid-Afrika oor Trump kan praat sonder dat daar harde woorde val nie. Nietemin, hy vertel toe verder van ʼn onlangse gesprek waarin hy vir die groep vra wat maak hulle daarvan dat Trump so baie leuens vertel. Die lys is lank, goed gedokumenteer en gekontroleer vir korrektheid. Sy vriende is intelligente mense en ontken nie dat Trump taamlik vry met feite omgaan nie. Hulle verweer is eenvoudig “Nobody is perfect!”
Lank na ons telefoongesprek sit ek nog en dink oor die saak en die woorde van Jesus in die Bergrede kom by my op. “Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’ ‘nee’; wat meer as dit is, kom uit die Bose.” Ons woorde moet woorde van integriteit wees. Mense moet kan staat maak op wat ons sê. Woorde is soos brûe wat ons bou. Kan mense met veiligheid daaroor ry of gaan dit onder hulle ineenstort? Een van die begrippe in die Ou Testament (emet) wat soms met “waarheid” vertaal word, kan ook as “betroubaar” of “getrou” vertaal word. As iemand die waarheid praat, kan jy dit vertrou en veilig voel. Dit is een van die kragtigste maniere waarop ʼn Christen kan getuig– praat net die waarheid. Wees betroubaar. “Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’ ‘nee’; wat meer as dit is, kom uit die Bose.”
Dié liriek van Lize Beekman sê dit raak:
Woorde het Vlerke
Daar is net een ding
Wat ek by jou wil weet
en ek gaan hierdie vraag
net een keer vra:
Het jy vergeet woorde het vlerke?
Dit begin by ʼn gedagte,
ʼn wete, ʼn keuse
In jou kop,
Wat jy dan sif deur die gate
En die pype van jou hart
Of nie
Dan gaan die boodskap
Na jou tong,jou lippe
En jy sê dit hardop
Jy verloor alleenreg
Of jy ooit die reg gehad het
Of nie
Dit word ʼn gedagte
ʼn wete, ʼn keuse
In ʼn ander een se kop
Wat dit sif deur die gate
En die pype van ʼn hart
Of nie
Die boodskap gaan na ʼn tong, lippe
En ʼn ander een sê dit
Hardop
En jou selfveroorloofde
Alleenreg woorde
Draai, maal, kolk en stort
En word asof...volksbesit
En dae, weke, maande, tyd later
Kom lê jou woorde in my oor
Woorde oor my
Rondom my
En dit vat aan my...
En ek probeer en probeer en weer
Om dit te sif, sif, sif
Deur die gate en die pype
Van my hart
Maar dit lê soos klippe
In ʼn sif van die fynste ogiesdraad
En ek dink jy't vergeet:
Woord het vlerke - dit vlieg!
En hoe langer die vlug
Hoe moeër raak die vlerke
En dit sak laer, laer, en laer...
En ek wens jy't in my oë gekyk
En die woorde oor my
Liefs in my kom lê
Dan was die vlug soveel korter
Die vlerke soveel sterker
En ons albei kon vlieg!
Dr. James Kirkpatrick
BEDIENINGS NUUS

Erediens
Erediens: 15 Februarie 2026 en Roetemerker Graad 8
Prediker: Dr. James Kirkpatrick
Aanlyn skakel vir die regstreekse uitsending.
Aanlyn bydraes:
Klik HIER om 'n bydrae te maak op Snapscan.

Geloofsvorming
Bybelstudie en Groeigroep

Daar sal geen Bybelstudie die komende Woensdag by die kerk wees nie.
Ons groep gaan saam die Aswoensdag diens by NG Kerk Waterkloof Rif bywoon.
BYBELSTUDIE
Tyd: Woensdae om 9:00
Plek: Jeugsaal
GROEIGROEP
Tyd: Woensdae om 18:00
Plek: Konferensielokaal
Kleuterkerk en jeuggroepe
Ons sien julle almal die komende Sondag!
Huisgeloof
Hierdie komende Sondag fokus ons op die vierde “Ek is”-uitspraak in Johannes, waar Jesus sê: “Ek is die lig vir die wêreld.” Indien jy en/of jou gesin in die komende week verder hieroor wil nadink en gesels, kan julle van die volgende huisgeloof gebruik maak:
Doen saam:
Steek ‘n kers aan en sit dit in die middel van die vertrek/tafel.
Gesels saam:
Wie in julle huis het die gewoonte om die meeste van die tyd die ligte aan te vergeet?
Lees saam:
Lees Johannes 8:12 saam.
Dink saam:
• Hoekom dink julle gebruik Jesus juis die beeld van lig en nie iets anders nie?
• Jesus sê nie net Hy gee lig nie, Hy sê Hy ís die lig. Wat dink julle beteken dit?
• Wat beteken dit prakties om Jesus as die Lig te volg in ons alledaagse lewens?
Sluit dan af met gebed.

Verbintenisgroep en Matrieks: Op reis met die Bybel
Neem asseblief kennis dat ons hierdie komende Sondag, 15 Februarie, nie bymekaar kom nie. Ons hervat weer op Sondag, 22 Februarie. Op reis met die Bybel.
Jong Volwassenes Selgroep
As jy ’n jong volwassene is tussen 18 en 35, nooi ons jou graag uit om deel te word van ons jong volwassenes se selgroep wat op 24 Februarie afskop. Dis ’n ruimte waar ons saam kuier en ook saam dink oor geloof en die Bybel.
As jy meer wil weet, sluit gerus HIER aan op die WhatsApp-groep.


Bedieningsvergaderings


Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):
Lees gerus die Noordelike Sinode in die week se nuusbrief.

Lees die Noordelike Sinode se weeklikse nuusbrief HIER
Slotboodskap
Terwyl ons hierdie week nadink oor die krag van woorde, dat dit kan bou of breek, word ons herinner om mense van waarheid en integriteit te wees. Die komende Sondag vier ons ook saam met ons Graad 8-jongmense hul Roetemerker tydens die erediens - ’n mooi geloofsmylpaal op hul reis. Mag jou week gevul wees met hoop en woorde wat lewe bring.
Tot volgende keer!
Ds. Lizl-Louise Schoeman
