Impak Nuusbrief

iM-pak Nuusbrief 12 Junie

June 12, 20265 min read
in ons gemeente
loodglas

In hierdie uitgawe van iM-pak:

• Brief: Ds. Liezl-Louise

• Eredienste

• Geloofsvorming

• Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil)


Brief

Die kerk van vandag

Vir ‘n paar weke was dit ongewoon stil op ons kerkterrein voor die erediens. Die kerkklok was stukkend. Geen groot krisis nie, sou mens dink, herstelwerk neem tyd en ons het begrip.

Maar daar was een groep wat glad nie ingenome was nie: die kleuterkerk.

Sedert die klok reggemaak is, het ‘n nuwe Sondagritueel stilletjies begin. Elke Sondag staan die groepie kleuters buite die kerkgebou. Hulle kyk op, vol verwagting vir die oomblik wanneer die swaar klok in beweging kom en die bekende klanke oor die buurt weergalm.Vir hulle is dit meer as ‘n horlosie wat sê dat dit tyd is vir erediens. Dit is ‘n gebeurtenis.

Op 16 Junie vier ons Jeugdag. Dit is die dag waarop dikwels gesê word: “Die jeug is die kerk van môre.”

As ons mooi na die kleuters kyk, verskil ons van daardie sêding.

Ons kinders is nie die kerk van môre nie. Hulle is reeds deel van die kerk van vandag. Hulle wag nie vir ’n oomblik in die toekoms om betekenis te hê nie. Hulle lewer nou reeds ’n bydrae tot wie ons as gemeente is.

Soms herinner hulle ons aan dinge wat ons maklik miskyk. Soos die vreugde van ’n kerkklok wat lui. Daarom neem ons hulle ernstig op. Hulle stemme, hulle vrae, hulle geloof en hulle verwondering wat ‘n onmisbare deel van ons gemeenskap se lewe is.

Dit is wat ons hierdie Jeugdag vier. Nie eerstens die belofte van môre nie, maar die rykdom van vandag.

Ds. Lizl-Louise Schoeman


BEDIENINGS NUUS

diens

Erediens

diens

Erediens: Sondag, 14 Junie 2026, 9:00vm.

  • Prediker: Ds. Lizl-Louise Schoeman

  • Aanlyn skakel vir die regstreekse uitsending.

Aanlyn bydraes:

  • Klik HIER om 'n bydrae te maak op Snapscan


geloofsvorming

Geloofsvorming

bybelstudie

Kleuterkerk en jeuggroepe

Neem asseblief kennis dat daar geen Kleuterkerk of Kategese op 14 Junie sal wees nie, aangesien dit 'n langnaweek is.

Ons sluit die kwartaal af op 21 Junie en sien daarna uit om die laaste byeenkoms van die kwartaal saam met julle te geniet. 🌿


Verbintenisgroep:

Ons volgende samekoms is die 26ste Julie om 18:00 in die Jeugsaal.

Jong Volwassenes Selgroep

Ons Jong Volwassenes Selgroep het op 9 Junie heerlik saam gekuier en ’n smaaklike lasagna-ete geniet. Dit was ’n kosbare geleentheid. Ons kom nie hierdie komende Dinsdag, 16 Junie, bymekaar nie weens die vakansiedag. Ons sien mekaar dan weer die 23ste Junie.

As jy meer wil weet, sluit gerus HIER aan by die WhatsApp-groep.


administrasie

Vergaderings

• Geen vergaderings die komende week nie.

gesluit


uitreik

Uitreik

spens-projekspens-projek


Vakansieprojek:29 Junie 2026 – 2 Julie 2026.

Dié projek sal die sewende vakansieprojek wees wat deur MonCare fasiliteer word.

Doel van die projek.

Die doel van die projek is tweeledig – eerstens word aan kinders die geleentheid gegee om uit hulle eie omgewing en in ‘n veilige omgewing net weer te kan kind wees. Die kinders word blootgestel aan aktiwiteite wat hulle geniet en hulle word bederf met twee heerlike maaltye per dag asook lekkernye, vrugte en koeldrank deur die loop van die dag. Terselfdertyd het die program ook ‘n voorkomende / terapeutiese fokus – die kinders word ondersteun in die verwerking van trauma waaraan hulle blootgestel was, hulle word ook toegerus met kennis om gesonde grense in stand te hou, verhoudingsvaardighede word ontwikkel, aandag word gegee aan die vestiging van gesonde selfbeeld en leiding word gegee ten opsigte van die voorkoming van alkohol- en dwelmmisbruik asook die voorkoming van tienerswangerskappe.

In die lig van die doel van die program word daar beoog om agt graad sewe seuns te betrek sodat voldoende individuele aandag aan elke kind gegee kan word.

Teikengroep

Die kinders wat betrek word by die projekte is woonagtig in die noorde van Pretoria (Wolmer area). Hulle is blootgestel aan negatiewe omgewingsfaktore. Die kinders se ouers is dikwels werkloos en finansiële probleme is ‘n gegewe. Die kinders is daarom deel van hulle skole se voedingsprojekte. Substansmisbruik, enkelouerskap, oorbewoning, gesinsgeweld en ander maatskaplike probleme is ‘n deel van die kinders se realiteit. Dit is vir dié rede wat ons aan die kinders ‘n geleentheid wil gee om in ‘n veilige omgewing net weer te kan kind wees. Die kinders wat aan die projek gaan deelneem word deur die skool identifiseer as hoë risiko kinders en word terapeuties ondersteun deur Me Karin Louw, Maatskaplike Werker, CMR Daspoort.

Behoeftes

Ons wenslys vir die projek sluit die volgende in:

  • Vier oggende se ontbyt vir agt seuns.

  • Vier middagetes vir agt seuns.

  • Vrugte, koeldrank en lekkernye vir vier dae.

  • Skryfbehoeftes vir die kinders.

  • Plakkers (“stickers”) en ander “craft” artikels wat tydens die projek deur die kinders gebruik kan word.

  • Bederfpakkies bestaande uit persoonlike toiletware, skryfbehoeftes, lekkernye, ens. vir die seuns om aan die einde van die projek huistoe te neem.

Die kos en lekkernye wat aan die einde van die projek oorbly word verdeel en saam met die kinders huistoe gestuur.

Indien u die projek wil ondersteun of enige navraag het kontak asseblief vir Petro Barnard, MonCare, 0825721469.

MonCare bedank ook graag met groot dankbaarheid die gemeente vir hulle volgehoue ondersteuning van die vakansieprojekte. Sonder die ondersteuning sou dit nie moontlik gewees het om die projekte aan te bied nie. Dit maak werklik ‘n verskil vir die kinders.


Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):

noordsin

Die mees onlangse Noordelike Sinode nuusbrief is HIER besikbaar.


Slotboodskap

Mag ons, soos die kinders wat met verwondering na die kerkklok luister, ook weer die vreugde ontdek om deel te wees van God se kerk vandag.

Geniet die langnaweek.

Ds. Lizl-Louise Schoeman

Custom HTML/CSS/JAVASCRIPT
Back to Blog