
iM-pak Nuusbrief 12 Desember


iM-pak Nuusbrief 12 Desember
In hierdie uitgawe van iM-pak:
• Brief: Prof. Willie van Heerden
• Eredienste
• Geloofsvorming
• Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):
BRIEF
Verwondering
“Gaan julle die gorillas soek?” Dit was die vraag wat ek en Judy dikwels moes beantwoord voordat ons onlangs Rwanda toe gereis het. Dit was lekker om in afwagting “ja” te kon sê. Die gorillas was deel van die reisplan.
“Wat was die hoogtepunt van julle toer?” Met ons terugkeer was dít die vraag wat ons moes beantwoord. Ons agterna-antwoord gaan nie oor die gorillas nie. Ons vertel van ‘n erediens wat ons bygewoon het, wat al die ander ervaringe in Rwanda deel gemaak het van iets groots, wat ons in verwondering laat.
Die mense wat die toer georganiseer het, het beplan dat ons op ‘n Sondag, kerktyd, by die Genocide Memorial Church by Kibuye (Karongi) sou aankom. In en rondom hierdie kerkgebou is daar tydens die menseslagting in 1994 ‘n paar duisend mense afgemaai. Woorde en beelde in en by die kerk bly mense daaraan herinner: “Never again” staan daar langs die hoofingang. Aan die binnekant, oor die volle lengte van een van die kerkmure, word Jesus se lydingspad visueel uitgebeeld. Ons skrik toe ons sien dat dié muurskilderye ooreenkomste toon met uitbeeldings van die menseslagting wat ons op ander plekke in Rwanda gesien het.
Wanneer ‘n jong seun wie se stem nog nie gebreek het nie ‘n deel van die erediens lei, is dit grafstil in die kerk. Dan sing almal met ‘n soort gevoel wat ons selde voorheen ervaar het. “Halleluja!”
Ons klim daarna weer in die voertuie. Stiller as vroeër die dag. Verskeie nat oë. Ons stop later by ‘n koffiewinkeltjie langs die pad. Ek sien ‘n man wat buite sit en skilder. Die gesig van ‘n dogtertjie is herkenbaar op die doek. Haar oë en mond wys sy is ontsteld.
“Wat het jou geïnspireer om die kind met die gevoelvolle gesiggie te skilder”, vra ek vir Gakirage Fiston.
Hy sê kinders is eerlik oor hoe hulle voel; ons grootmense sukkel daarmee. Ons moet by die kinders leer. Dit sal ons help, want daar is baie gevoelens waaroor dit moeilik is om te praat of teenoor onsself te erken, of waaroor ons jok wanneer ons daaroor praat. Daarom is die tema van sy jongste skilderprojek “Real eyes realise real lies.”
Gakigare vat my na ‘n klein gallery waar daar onder meer van sy ander werke uitgestal word. Ek staan voor ‘n handvol skilderye van kindergesiggies wat geskok is, wat opgewonde is, of wat grootoog verwonderd staan.
Die prentjie van die grootoog-seuntjie wat in verwondering staan, help my om in voeling te kom met wat ek daardie week keer op keer ervaar het.
Gakirage beskryf die dinge wat hy in die skildery van die seuntjie probeer vasvat het só: Hierdie seuntjie word meegevoer deur iets waarop sy oë gerig is. Hy lyk nuuskierig daaroor. Hy soek dalk ‘n antwoord wat hy nog nie het nie.

Terug by die huis kan ek nie wag om te hoor wat mense vertel oor wat dit beteken om in verwondering voor God te staan nie: Jy staan klein voor iets groots. Verwondering ontlok by jou ontsag én fassinering. Jy wil tegelyk ‘n treetjie terugtree én naderstaan. Verwondering vat jou verby die antwoorde wat jy ken en maak nuwe vrae in jou los. Buite jou bevattingsvermoë ontvou ‘n geheim voor jou. Jy ervaar onverwagte, ongekende vreugde. Jy voel hoe lewegewende krag deur jou vloei. Jy voel dat jy op die regte plek, op heilige grond is.
Dit stem ooreen met die prentjie wat Rudolf Otto geskilder het van hoe godsdiens lyk: Dit gaan oor ‘n mysterium tremendum et fascinans — ‘n misterie wat jou tegelyk met ontsag én fassinerering vervul.
Was dit die soort ervaring wat die skaapwagters gehad het toe hulle gehoor het van Jesus se geboorte — die kind wat mense se lewens nuut kom maak het? Tydens ‘n ervaring, anders as enigiets wat hulle tevore geken het, het engele vir hulle gesê dat hulle bangwees nie in die pad hoef te staan van hulle naderstaan aan die kind wat die hart sou wees van die boodskap oor vrede op aarde wat hulle vir mense sou bring nie (Luk 2:10,14). En daardie boodskap het almal wat daarvan te hore gekom het, verwonderd gelaat (Luk 2:18). Nou, in Adventstyd, kan ons opnuut verwonderd staan oor en lewenskrag put uit hierdie boodskap.
En die gorillas? Ja, ons het hulle gekry en kon tyd saam met hulle deurbring. Hulle het die prentjie van verwondering help voltooi. Dit was die gorillakinders wat nadergestaan het en vir ons gewys het hoe dit lyk wanneer jy tegelyk skrikkerig én gefassineerd is!
Prof. Willie van Heerden
BEDIENINGS NUUS

Erediens
Erediens: Sondag 14 Desember om 9h00
Prediker: Dr. James Kirkpatrick
Aanlyn skakel vir die regstreekse uitsending.
Aanlyn bydraes:
Klik HIER om 'n bydrae te maak op Snapscan.
Kersdiens 2025
Ons nooi jou hartlik uit na ons Kersdiens, gelei deur Ds. Lizl-Louise Schoeman, op 25 Desember om 08:00.

Geloofsvorming
Bybelstudie en Groeigroep
Ons Bybelstudiegroep skop weer af op 21 Januarie 2026, en ons sien uit om almal terug te verwelkom.
Kleuterkerk en jeuggroepe
Ons kleuterkerk en jeuggroepe het vir die jaar afgesluit. Registrasie vir 2026 vind op 25 Januarie plaas.

Bedieningsvergaderings
Daar word vir die res van die jaar geen verdere vergaderings beplan nie. Die kerkkantoor sluit op 12 Desember 2025 en heropen weer op 12 Januarie 2026.

Dis Kersfees

Baie dankie aan almal vir julle waardevolle bydraes tot die verskeie projekte hierdie jaar. Julle betrokkenheid word opreg waardeer!
-Petro Barnard-
Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):

Lees die Noordelike Sinode se weeklikse nuusbrief HIER
Slotboodskap
Baie dankie dat jy hierdie week se iM-pak saam met ons gelees het. Mag die uitnodiging om in ware verwondering te leef, om opnuut raak te sien hoe God se teenwoordigheid lewe bring, jou deur hierdie tyd dra.
Ons wens jou ’n heerlike tyd van rus en samesyn toe. Mag jy en jou geliefdes ’n geseënde feesseisoen beleef.
Tot volgende keer!
Ds. Lizl-Louise Schoeman
