
iM-pak Nuusbrief 11 September


iM-pak Nuusbrief 11 September
BRIEF
Brief
Shosholoza
Dis Vrydag. Môre speel die Springbokke die laaste en beslissende toets teen die All Blacks in Baltimore — die vierde in die Greatest Rivalry reeks wat reeds 2-1 in ons guns is.
Wanneer die spelers môre op die veld draf, sal dit nie net die klanke van die volksliedere wees wat opklink nie. Iewers in daardie stadion gaan ons ook die bekende dreuning van Shosholoza hoor.
'n Lied wat min met rugby te doen het maar alles met spangees.
Die woord self beteken "beur vorentoe" of "maak plek vir die een wat volg." Dit het begin as 'n werklied, gesing deur trekarbeiders en mynwerkers wat met die trein tussen hulle blyplek en die myne gereis het. Dis gesing terwyl die werk swaar was, die hande moeg en die pad huis toe ver gelê het.
Die woord "beur" pas nie sleg by hierdie tyd van die jaar nie. Ons weet hoeveel dinge nog ingepas moet word en wat dit van ons vra.
Dalk kan ons iets deur hierdie lied leer? Niemand gee om of jy nootvas of vals is nie. Inteendeel. Solank jy net saamsing, uit volle bors, in jou groen en goud. En dis nogal lekker as die ou valsnootjie uitgedoof word deur die massa stemme om jou.
Sho-sho-lo-za, sho-sho-lo-za... mag daar ook iemand langs jou staan in hierdie laaste deel van die jaar. Iemand wat saam vorentoe kan gaan, al is dit hoe moeilik. Sy aan sy. Sho-sho-lo-za...
Ds. Lizl-Louise Schoeman
BEDIENINGS NUUS


Erediens
Erediens: Sondag, 13 September 2026, 9:00vm.
Prediker: Ds. Lizl-Louise Schoeman
Aanlyn skakel vir die regstreekse uitsending.
Aanlyn bydraes:
Klik HIER om 'n bydrae te maak op Snapscan
GELOOFSVORMING

Bybelstudie en Groeigroep

Ons kwartaal se Bybelstudie word op Woensdag 16 September om 09:00 afgesluit.
Kleuterkerk en Jeuggroepe
Hierdie komende Sondag staan ons stil by Hosea 11:1-9.
Indien jy en/of jou gesin in die komende week verder hieroor wil nadink en saam gesels, kan julle van die volgende huisgeloof gebruik maak:
Huisgeloof
Gesels saam
Begin met die vraag:
Het iemand al iets vir jou gedoen waarvoor jy eers later besef het hoe baie dit eintlik beteken het?
Vertel vir mekaar daarvan.
Lees saam
Lees Hosea 11:1–9.
God kyk in hierdie gedeelte terug na sy verhouding met Israel. Hy praat oor Israel soos oor ’n geliefde kind: Hy het hulle uit Egipte geroep, hulle versorg, hulle gedra en na hulle omgesien.
Maar Israel het dit nie altyd raakgesien nie. Hoe meer God hulle geroep het, hoe verder het hulle van Hom af weggedraai.
Dan kom die verrassende woorde van vers 8:
“Hoe kan Ek jou prysgee, Efraim?”
Efraim is ’n ander naam wat hier vir Israel gebruik word.
God het alle rede om kwaad te wees, maar sy liefde vir sy volk laat Hom nie eenvoudig wegstap nie.
Hosea 11 wys vir ons ’n God wie se liefde sterker is as sy volk se ontrouheid.
Dink saam
• Wat verras jou van die manier waarop God hier oor Israel praat?
• Hoekom dink julle het Israel nie raakgesien dat God vir hulle sorg nie?
• Wat leer vers 8 vir ons oor God?
• Is daar plekke in ons eie lewe waar ons God se sorg maklik miskyk?
Doen saam
Gee vir elkeen ’n stukkie papier. Skryf daarop:
“Hoe kan Ek jou prysgee?” - Hosea 11:8
Skryf daaronder een ding waarvoor jy vandag dankbaar is, iets wat jou herinner aan God se sorg.
Sit die papiertjies êrens waar julle dit deur die week weer sal sien.
Sluit af met gebed.
Verbintenisgroep
Die Verbintenisgroep kom nie hierdie Sondagaand,13 September, bymekaar nie.
Jong Volwassenes Selgroep
Ons Jong Volwassenes Selgroep sien mekaar weer op Dinsdag, 22 September om 18:00.

Vir meer inligting, sluit gerus HIER by ons WhatsApp-groep aan.
ADMINISTRASIE

Vergaderings
Daar sal geen vergaderings hierdie week wees nie.
UITREIK

Spens-projek


Vakansieprojek: 28 September 2026 – 1 Oktober 2026.
Dié projek sal die negende vakansieprojek wees wat deur MonCare fasiliteer word. Dit is ook die laaste vakansieprojek vir 2026.
Doel van die projek
Die doel van die projek is tweeledig – eerstens word aan kinders die geleentheid gegee om uit hulle eie omgewing en in ‘n veilige omgewing net weer te kan kind wees. Die kinders word blootgestel aan aktiwiteite wat hulle geniet en hulle word bederf met twee heerlike maaltye per dag asook lekkernye, vrugte en koeldrank deur die loop van die dag. Terselfdertyd het die program ook ‘n voorkomende / terapeutiese fokus – die kinders word ondersteun in die verwerking van trauma waaraan hulle blootgestel was, hulle word ook toegerus met kennis om gesonde grense in stand te hou, verhoudingsvaardighede word ontwikkel, aandag word gegee aan die vestiging van gesonde selfbeeld en leiding word gegee ten opsigte van die voorkoming van alkohol- en dwelmmisbruik asook die voorkoming van tienerswangerskappe.
In die lig van die doel van die program word daar beoog om agt graad sewe dogters te betrek sodat voldoende individuele aandag aan elke kind gegee kan word.
Teikengroep
Die kinders wat betrek word by die projekte is woonagtig in die noorde van Pretoria. (Daspoort omgewing) Hulle is blootgestel aan negatiewe omgewingsfaktore. Die kinders se ouers is dikwels werkloos en finansiële probleme is ‘n gegewe. Die kinders is daarom deel van hulle skole se voedingsprojekte. Substansmisbruik, enkelouerskap, oorbewoning, gesinsgeweld en ander maatskaplike probleme is ‘n deel van die kinders se realiteit. Dit is vir dié rede wat ons aan die kinders ‘n geleentheid wil gee om in ‘n veilige omgewing net weer te kan kind wees. Die kinders wat aan die projek gaan deelneem word deur die skool identifiseer as hoë risiko kinders en word terapeuties ondersteun deur Me Karin Louw, Maatskaplike Werker, CMR Daspoort.
Behoeftes
Ons wenslys vir die projek sluit die volgende in:
• Vier oggende ontbyt vir agt dogters.
• Vier middagetes vir agt dogters.
• Vrugte, koeldrank en lekkernye vir vier dae.
• Skryfbehoeftes vir die kinders.
• Plakkers (“stickers”) en ander “craft” artikels wat tydens die projek deur die kinders gebruik kan word.
• Bederfpakkies bestaande uit persoonlike toiletware, skryfbehoeftes, lekkernye, ens. vir die dogters om aan die einde van die projek huistoe te neem,
Die kos en lekkernye wat aan die einde van die projek oorbly word verdeel en saam met die kinders huistoe gestuur. Indien u die projek wil ondersteun of enige navraag het kontak asseblief vir Petro Barnard, MonCare, 0825721469.
MonCare bedank ook graag die gemeente vir hulle volgehoue ondersteuning van die vakansieprojekte. Sonder die ondersteuning sou dit nie moontlik gewees het om die projekte aan te bied nie. Dit maak werklik ‘n verskil vir die kinders.
SORG

Wild en Wakker Lentefees
Die Wild & Wakker Lentefees
Neem asseblief kennis dat die Wild-en-Wakker Lentefees op Saterdag 10 Oktober 2026 plaasvind.
Dit gaan ’n onvergeetlike dag wees, en ons sien uit daarna om jou op 10 Oktober te verwelkom!
🎟️Kaartjieverkope is steeds oop!
Lentesangfees
Die 6de September was ’n hoogtepunt – ons Lentesangfees het die nuwe seisoen met vreugde en musiek verwelkom.

Verjaarsdae vanuit die kerkkantoor

Baie geluk aan Marietjie Hattingh, ons Finansiële Beampte, wat op 9 September verjaar het, en ook aan Daniellé Le Grange, ons Operasionele Beampte, wat op 14 September verjaar. Ons wens vir julle alles wat mooi is toe.
SINODEBRIEF
Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):

Die mees onlangse Noordelike Sinode nuusbrief is HIER besikbaar.
SLOTBOODSKAP
Slotboodskap
Mag ons hierdie week onthou dat ons nie alleen hoef te beur en vorentoe te gaan nie. God se liefde bly by ons. Mag ons, soos die woorde van Shosholoza, mekaar aanmoedig om saam vorentoe te beweeg.
Tot volgende keer!
Ds. Lizl-Louise Schoeman
