
iM-pak Nuusbrief 8 Mei


iM-pak Nuusbrief 8 Mei
In hierdie uitgawe van iM-pak:
Brief: Ds. Lizl-Louise Schoeman
Eredienste
Geloofsvorming
Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil)
Die “Binne-kant” van Liefde
In die boek Mister God, This Is Anna is daar ’n sesjarige dogtertjie wat die wêreld met verstommende eenvoud sien. Sy meen die meeste mense probeer God van buite af verstaan — asof Hy ver weg sit en dinge vir ons "gee". Daaroor sê Anna:
“Mister God doesn’t love us. He IS love.”
Vir Anna is liefde nie iets wat God doen wanneer die tyd reg is nie; dit is wie Hy is. Ons leef binne-in hierdie liefde; dit is die atmosfeer wat alles bymekaar hou.
Miskien is dit die mooiste manier om op Moedersdag na ma-wees te kyk. As ons Anna se logika volg, is daar ook soveel meer aan 'n ma as net die "doen-lysies" — die kos op die tafel, die skoon klere, of die onthou van almal se dinge.
’n Ma doen nie net liefde nie. Sy word die liefde waarin haar kinders leef.
Vir haar gesin is sy dikwels die verpersoonliking van veiligheid en aanvaarding — die een plek op aarde waar jy kan wees sonder om te hoef presteer. Sy is die "binne-liefde" wat ons vorm, lank nadat ons die huis verlaat het. Dit is sy wat die onsigbare drade vashou: die geduld, die luister, die saamwees en die genade wat altyd jou rug toemaak.
Mag Moedersdag daarom vanjaar meer wees as net ’n vinnige "dankie". Mag dit ’n viering wees van hierdie lewegewende teenwoordigheid. Of hulle vandag fisies deel is van ons lewens of slegs as 'n kosbare herinnering in ons harte voortleef — mag ons vandag stilstaan by die mense wat ons geleer het hoe liefde lyk.
Geseënde Moedersdag.
Ds. Lizl-Louise Schoeman
BEDIENINGS NUUS

Erediens

Erediens: Sondag, 10 Mei 2026, 9:00vm.
Prediker: Ds. Lizl-Louise Schoeman
Aanlyn skakel vir die regstreekse uitsending.
Aanlyn bydraes:
Klik HIER om 'n bydrae te maak op Snapscan.

• Ons Bybelstudiegroep kom weer vanaf 13 Mei 2026 om 09:00 in die Jeugsaal bymekaar.
• Die Groeigroep sien ook daarna uit om jou Woensdae om 18:00 in die konferensielokaal te verwelkom.

Waterkloof Marina-kuiergeleentheid
Lidmate wat woonagtig is in Waterkloof Marina word hartlik uitgenooi na ’n gesellige kuier by NG Kerk Monumentpark op 24 Mei 2026, direk ná die erediens. Kom kuier saam met ons in die Jeugsaal, ons sien uit daarna om julle daar te verwelkom!

Kleuterkerk en jeuggroepe
Die Kleuterkerk en jeuggroepe kom weer op 10 Mei bymekaar. Die Kleuterkerk kuier hierdie week saam met ons Gr. 1–3-groepe in die Familiesaal.

Ons staan die komende Sondag stil by Johannes 21:1-19 waar Jesus aan sy dissipels verskyn. Indien jy/en of jou gesin in die komende week verder hieroor wil nadink en saam gesels, kan julle van die volgende huisgeloof gebruik maak:
Huisgeloof
Gesels saam
Dink aan ’n ete wat jy nooit sal vergeet nie. Dit hoef nie ’n “fancy” ete te wees nie. Dalk ’n braai, ’n vakansie-ontbyt, Ouma se tafel, of sommer kitskos in die kar saam met mense vir wie jy lief is.
Wat maak sekere etes spesiaal?
Hoekom gebeur baie belangrike gesprekke dikwels rondom tafels?
Wanneer voel jy die meeste “tuis” aan ’n tafel?
Lees saam
Lees Johannes 21:1–19
Dink saam
Hoekom dink julle ontmoet Jesus die dissipels rondom ’n ete?
Wat dink julle beteken dit dat Jesus eers kos gee vóór Hy met Petrus praat?
Hoe kan ’n tafel ’n plek van liefde en genade wees?
Doen saam
Hou hierdie week een ete sonder TV’s of selfone.
Steek dalk ’n kers aan of maak die tafel mooi, al is die kos eenvoudig.
Voor julle eet, kan elke persoon hierdie sin voltooi:
“Hierdie week was ek dankbaar vir…”
Sluit af met gebed.
Ouerleiding
Dr. Michiel van der Merwe kom spreek ouers en tieners toe op 17 Mei 2026, direk ná die erediens. Die teikengroep is tieners (Gr. 7 en ouer). Die onderwerp van die gesprek is: “Verslawing — dit kan nie in ons gesin gebeur nie?”
Die geleentheid is gratis. Ná die erediens kan ouers en tieners eers vinnig saam koffie geniet, waarna ons weer in die kerk bymekaarkom vir die praatjie.

Verbintenisgroep
Ons herinner julle daaraan dat die Verbintenisgroep hierdie komende Sondag, 10 Mei, om 18:00 in die Jeugsaal weer bymekaar kom. Ons gaan saam dink en gesels oor die Drie-Eenheid.

Jong Volwassenes Selgroep
Ons volgende samekoms is op 19 Mei om 18:30 in die Konferensielokaal.
As jy meer wil weet, sluit gerus HIER aan by die WhatsApp-groep.

Bedieningsvergaderings
• Maandag, 11 Mei: Diensraad Sorg en Diensraad Uitreik
• Dinsdag, 12 Mei: Diensraad Geloofsvorming en Diensraad Erediens
Uitreik


Wild en Wakker lentefees
Die Wild en Wakker Lentefees vind vanjaar op 5 September plaas. Indien jy graag betrokke wil raak by die reëlings, kontak gerus die kerkkantoor.

Bottel-en-Bord
Dis weer tyd vir Bottel-en-Bord!
Kom kuier saam met ons op 28 Mei om 18:00 in die Jeugsaal. Dr. Theuns Eloff is die gasspreker vir die aand. Bring jou eie eet- en drinkgoed, asook eetgerei en kom geniet ’n gesellige aand saam. Rsvp. asb. by die kerkkantoor teen 26 Mei.

Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):

Die mees onlangse Noordelike Sinode nuusbrief is HIER besikbaar.
Slotboodskap
Mag hierdie Moedersdag ons herinner aan die liefde, genade en omgee wat ons lewens vorm. Dankie dat jy deel is van ons geloofsfamilie. Mag die Here jou week vul met vrede en nuwe moed.
Tot volgende keer!
Ds. Lizl-Louise Schoeman
