Impak Nuusbrief

iM-pak Nuusbrief 7 November

November 07, 20259 min read
in ons gemeente
loodglas


In hierdie uitgawe van iM-pak:

• Brief: Dr. James Kirkpatrick

• Erediens: Dr. James Kirkpatrick, 9 November om 09h00.

• Geloofsvorming

• Geloofsverbintenis

• Dagboekhoogtepunte

• Herinneringsdiens: 30 November

• Administrasie: Vergaderings

• Kersfeesprojek 2025

• Bottel-en-bord

• Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):


BRIEF

Wat is die storie van die matte?

Wat is die storie van die matte? Dié vraag moes ek nou al ’n paar keer antwoord. Net die afgelope Sondag weer. So, laat ek die storie van die matte vertel.

Ons is nou drie jaar lidmate van Monumentpark. Ek onthou baie goed die eerste Sondag toe ons hier kerk toe gekom het. By die deur is ons verwelkom deur ’n vriendelike dominee Lizl-Louise. Ek het haar geken en het niks minder verwag nie, maar Mari was beïndruk met die hartlike ontvangs. Dit was ons albei se voorneme om op geen manier hierdie gemeente te vergelyk met ons vorige kerktuiste van meer as 33 jaar nie. Daar sou geen sin wees daarin nie, want ’n gemeente is soos ’n mens met ’n eie unieke persoonlikheid.

My tweede waarneming dié eerste Sondag was minder positief. Alhoewel dit ’n mooi kerkgebou is, het die verwaarloosde kerkmatte my dadelik opgeval. “Wat sou die rede wees?” het ek in die agterste bank gesit en dink. Wat het nou van jou voorneme geword om nie krities hier op te daag nie, het ek in die stilte aan myself gevra. Gelukkig het ek die dominees goed geken en kon ek spoedig na die eerste Sondag versigtig by hulle navraag doen. Na ons gesprek het ek die groter prentjie begin kry en kon voortaan, steeds geïrriteerd, maar met veel meer begrip daarna kyk. Daar was doodgewoon nie genoeg geld om die lang lys van agterstallige onderhoud te doen nie. Die matte lyk soos hulle lyk weens waterskade veroorsaak deur ’n gebou waarvan die vensters nie dig sluit nie en vog wat deur die mure in die kerk binnedring. Dit was niemand se skuld nie. Die gebou is groot en die geld is min.

Maar hier is die goeie nuus. Daar is nou geld om te begin doen wat nodig is. Dit is nog ’n lang pad, maar ten minste kon ons die eerste tree gee. Dit is veral twee faktore wat alles verander het. Die eerste is die moeilike besluit om vanjaar die vul van die tweede leraarspos uit te stel en die tweede is die inspirerende reaksie van die gemeente in die dankfeesmaand. Die begrote teikenbedrag is met meer as R100 000 oorskry! Dit was dus moontlik om die noodsaaklike werk te begin doen. Reeds meer as R200 000 is aan die herstel van die vensters en waterdigting bestee, maar ons moet geduldig met die matte wees. Sodra ’n argitek deeglik na die hele binneruim van die kerk gekyk het en ons ’n deurdagte aanbeveling oor die akoestiek en vloerbedekking gekry het, is dit tyd vir die groot projek van banke uithaal, plek vir kabels (vir die tegnologie) in die betonvloer insny en alles doen wat gedoen moet word.

Maar die eintlike goeie nuus is die gesindheid van lidmate. Die persoon wat my Sondag gevra het oor die storie van die matte het ons gesprek afgesluit met “Kontak my as julle hulp nodig het!” Ek gaan dit dus waag om te sê dat ons teen middel volgende jaar in ’n nuwe netjiese binneruimte van die kerk betekenisvolle eredienste gaan hou.

Dr. James Kirkpatrick


BEDIENINGS NUUS

diens

Erediens

erediens

  • Sondag 9 November om 09h00

  • Prediker: Dr. James Kirkpatrick

  • Aanlyn skakel vir die regstreekse uitsending.

  • Klik HIER om 'n bydrae te maak op Snapscan.


geloofsvorming

Geloofsvorming

Bybelstudie

bybelstudie

Groeigroep

groei


Kleuterkerk en Jeuggroepe

Kerssangdiensoefentye:

kleuterkerk

Ons kategete van 2025 deel graag ‘n woordjie:

Louisa Wessels - Kleuterkerk

louisa

“Ek is al 10 jaar getroud en 'n mamma van twee seuns. Wanneer daar ‘n kind gedoop word, beloof ons as gemeente ook om die kind te help leer van God. Ek het dus besluit om deel te vorm van die kleuterkerk. Saam as span (Ek, Odette, Magda, Jean en ander ouers) leer ons die kleuters op kreatiewe manier van die Here. Die afgelope jaar was geseënd en is ons dankbaar vir 'n groot groep kleuters wat deelgeneem het. Ek sien uit om nog nuwe gesiggies op te kan helder volgende jaar!”

Margo Scott – Graad 4-groep

Wie is jy?

“Margo Scott”

margo

Waarom het jy ‘n kategeet geword?

“Ek het ’n kategeet geword omdat ek die kinders wil help om sin te maak van God se liefde in die wêreld. Ek wil ’n veilige ruimte skep waar hulle vrae kan vra, God kan ontdek, en ’n sterk geestelike fondament kan bou.”

Wat het die jaar vir jou beteken en wat het jy saam met die groep ervaar of geleer?

“Hierdie jaar as kategeet was vir my veel meer as net lesgee. Dit was ’n reis saam met ’n groep kinders wat my voortdurend verras, uitdaag en inspireer het. Elke week het ek herinner geraak dat geloof nie net in groot oomblikke groei nie, maar in klein gesprekke, eerlike vrae en eenvoudige dade van vriendelikheid.

Hierdie jaar saam met die kinders het my nie net geestelik laat groei nie, maar ook as mens. Ek het selfs nuwe dinge by hulle en deur hulle ontdek, soos om UFC-gevegte te kyk, veral wanneer Dricus “Stillknocks” du Plessis baklei, want ek weet daar gaan óf groot opgewondenheid óf groot teleurstelling wees voor kerk.

Dit het my herinner dat geloofsvorming nie net in lesse of Bybelverse gebeur nie, maar in gewone, lewenswerklike oomblikke wat ons saam deel. Deur hul entoesiasme en hul stories het ek besef hoe belangrik dit is om werklik in kinders se wêreld in te stap. Hulle het my geleer om te lag, om nuuskierig te bly, om nuwe dinge te probeer en om wysheid te sien in die eenvoud van elke dag. Hierdie groep het my jaar verryk op maniere wat ek nooit sou kon voorspel nie. Dit was vir my ’n voorreg om hulle te begelei en ook saam met hulle te groei.”

Stelma Prinsloo - Graad 5-groep

stelma

“Ek is Stelma Prinsloo, ‘n Mamma van 3 dogters en ‘n Kleuterskool Juffrou. Ds.Wynand het my genader om die jaar deel te wees van die Gr5-groep, waar my jongste tans is. Wat ek geleer het van my klas is om informeel te kan gesels oor elkeen se week, skool, aktiwiteite, bekommernisse en hoogtepunte, maar, die belangrikste is om te sien hoe elkeen nader aan Jesus Christus groei en leef.”

Wilando Ferreira – Graad 6-groep

wilando

“My naam is Wilando Ferreira, Graad 6 kategeet van 2025. Ek het 'n kategeet geword om terug te gee aan die die kerk, wat al soveel vir my beteken het in my lewe. Ek poog om 'n verskil te maak in jong mense se lewens, sodat hulle hulself en die wêreld beter kan verstaan, deur die perspektief van geloof. As dit nie vir die kategete in my lewe was nie, sou ek beslis nie vandag die mens gewees het wie ek is nie. Ek glo graag dat ek en die Graad 6'e saam gegroei het hierdie jaar. Ek het soveel van my Graad 6'e geleer en was heerlik uitgedaag deur al hulle vrae, van skoolwerk tot mense-verhoudinge tot die "regte lewe" beginsels, gebaseer in geloof. Ek het my gesprekke met die Graad 6'e vreeslik geniet en in die proses sommer self meer van die lewe geleer - voorwaar 'n hoogtepunt van my week!

Wat vir my bo alles uitgestaan het, is hoe die groep vashou aan geloof in al hulle gesprekke en antwoorde op vrae, en aktief poog om Jesus se liefde elke dag uit te leef aan ander en raak te sien in die wêreld om hulle. Ek is baie trots op elke Graad 6 met wie ek die voorreg gehad het om 'n pad te stap hierdie jaar. Ek kan nie wag om hulle weer te ontmoet in hulle Graad 7 jaar en hulle laaste laerskool-jaar met hulle te deel nie!”

Daniellé Le Grange – Graad 7 en Graad 8

danielle

2019

In 2019 het Elsa my genader om ‘n kategeet te word. Ek het destyds die stap geneem en dieselfde groep is nog steeds by my. Wat ’n wonderlike voorreg was dit om geestelik saam met hulle te groei! Dit is vir my ongelooflik om terug te dink aan die klein Graad 1-groepie wat destyds skaars hulle Bybels kon dra - en om nou te sien hoe hulle jong tieners geword het wat met oorgawe oor hul geloof gesels.

Om saam met hierdie kinders die geloofspad te stap, is vir my ’n groot seën. Elke jaar bring nuwe insigte, nuwe stories en nuwe vreugde. Ek sien uit om te sien waarheen die Here ons volgende gaan lei.

Nagmaal en Geloofsverbintenis – ’n Kosbare Geleentheid

Die afgelope Sondag was ’n kosbare geleentheid toe jongmense hul plek in ons geloofsfamilie gevier en hul verbintenis tot die Here bevestig het. Die diens was gevul met mooi oomblikke, waar onder andere Hattingh Davel en Eraneé de Beer vir pragtige musiek gesorg het, wat alles net nog meer spesiaal gemaak het.

’n Groot dankie aan almal wat hierdie besondere dag moontlik gemaak het!

nagmaal

nagmaal

nagmaal

nagmaal

nagmaal

nagmaal

nagmaal

nagmaal

nagmaal

Foto: Hattingh Davel en Eraneé de Beer


Dagboekhoogtepunte:

hoogtepunte

Herinneringsdiens: 30 November

Op 30 November hou ons ’n herinneringsdiens om spesiaal te dink aan geliefdes wat ons verloor het. Stuur gerus ’n foto saam met die besonderhede (naam, geboorte- en sterfdatum) na die kerkkantoor: [email protected]. Meer besonderhede volg later.

kers
administrasie

Bedieningsvergaderings

kerkraad
sorg

Kersfeesprojek 2025

Ons wil graag help om te verseker dat kinders wat gedurende die kwartaal by skole voedselhulp ontvang, ook in die vakansietyd ondersteun word. Daarom benodig ons asb nie bederfbare produkte, toiletware en skryfbehoeftes – ’n klein gebaar wat ’n groot verskil kan maak.

Ons nooi jou vriendelik uit om deel te neem aan hierdie projek. Jy kan jou bydrae kerk toe bring of by die kerkkantoor aflaai op weeksdae tussen 08:00 en 13:00.

Saam kan ons die Feesseisoen ’n verskil maak in gesinne se lewens.

-Petro Barnard-

kersboom

Bottel en Bord – 6 November 2025

Die Bottel en Bord-aand met Roland Henwood was ’n reuse sukses! Sy gesprek oor “Die konteks waarin ons leef” het tot diep nadenke gelei. Gaste het hul eie eet- en drinkgoed saamgebring en ’n heerlike, ontspanne aand in goeie geselskap geniet.

’n Opregte dankie aan almal wat saamgekuier het — dit was ’n gesellige en inspirerende geleentheid wat lank onthou sal word.

bottel en bord

bottel en bord

bottel en bord

bottel en bord

bottel en bord

bottel en bord


Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):

noordsin

Lees die Noordelike Sinode se weeklikse nuusbrief HIER


Slotparagraaf

Die vooruitsig van nuwe matte in ons kerk herinner ons dat alles tyd neem. In eredienste vol betekenis, deur kategete wat jaar na jaar met oorgawe dien, jongmense wat hul geloof bely en hande wat help waar daar nood is, sien ons hoe ons as gemeente oor tyd groei.

Tot volgende keer!

Ds. Lizl-Louise Schoeman

Back to Blog