Impak Nuusbrief

iM-pak Nuusbrief 6 Maart

March 06, 20266 min read
in ons gemeente
loodglas

In hierdie uitgawe van iM-pak:

• Brief: Ds. Lizl-Louise Schoeman

• Eredienste

• Geloofsvorming

• Uitreik

• Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil)


BRIEF

Tussen ore toedruk en alles verslind

Ek het onlangs met iemand gesels wat stomverbaas was om te hoor van die konflik in die Midde-Ooste. Haar reaksie was vinnig: "Ek kyk glad nie nuus nie. Ek wil nie weet wat in die wêreld aangaan nie." Later in die gesprek, toe die onderwerp weer opduik, het sy letterlik haar ore toegedruk. "Ek wil niks hoor nie. Ek wil nie weet nie."

Aan die ander kant van die spektrum ervaar ons hoe die konflik mense se huise binnedring. Dis oral. Elke skerm in ons hande wys vir ons die rou werklikheid van die ander kant van die wêreld. Maar selfs dit is verraderlik: Hoe weet jy of dit werklik so is en of dit vals nuus is? Met die hulp van KI kan enigiemand vandag enige storie opdis en aanbied as die waarheid.

Tussen hierdie uiterstes van totale ontkenning en obsessiewe verbruik voel dit of daar geen veilige middeweg is nie. Dit laat 'n mens magteloos en laat jou wonder: Hoe leef ons as gelowiges in hierdie konflik?

Niemand van ons het beheer oor enige van hierdie gebeure nie, dit is net ons eie lewenshouding waaroor ons ’n sê het. Die volgende punte help my:

• Erken die emosies soos vrees, maar moenie dat dit die huis word waarin jy bly nie. Dis eerlik om bekommerd te wees oor die wêreld, maar moenie toelaat dat daardie vrees jou permanente adres word nie.
• Wees versigtig met dit waarop jy “inkoop.” Nie alles op die skerm is waar nie. Nie elke berig verdien jou emosionele energie of jou onverdeelde aandag nie.
• Raak bewus van God se teenwoordigheid. Lydenstyd roep ons nader aan God. Nie as ’n manier om die werklikheid te ontsnap nie, maar om dit juis te hanteer omdat ons weet ons is nie alleen in die storm nie.

Corrie ten Boom wat midde in die Tweede Wêreldoorlog geleef het, het gesê : "As jy na die wêreld kyk, sal jy ontsteld wees. As jy na binne kyk, sal jy moedeloos wees. Maar as jy na Christus kyk, sal jy rus vind."

Gebed: Here, gee ons die wysheid om nie ons ore vir die wêreld se nood toe te druk nie, maar ook die genade om nie daarin te verdrink nie. Help ons om vandag vas te hou aan U teenwoordigheid, die enigste ware konstante in 'n veranderlike wêreld. Amen.

Ds. Lizl-Louise Schoeman


BEDIENINGS NUUS

diens

Erediens

preek

Erediens: Sondag, 8 Maart 2026, 9:00vm.

  • Prediker: Aldi Serfontein (Teologiese Student)

  • Aanlyn skakel vir die regstreekse uitsending.

Aanlyn bydraes:

  • Klik HIER om 'n bydrae te maak op Snapscan.


geloofsvorming

Geloofsvorming

Bybelstudie en Groeigroep

bybelstudie

BYBELSTUDIE

Tyd: Woensdae om 9:00

Plek: Jeugsaal

byblestudie

Ons is steeds besig met ons reeks “Waarvoor is jy bang?” - Perspektiewe uit die Psalms.

Hierdie week fokus ons spesifiek op die vraag: “Is jy bang vir die donker?” Ons gaan saam dink en gesels oor Psalm 121. Sien julle Woensdag, 11 Maart, om 09:00 in die Jeugsaal.

GROEIGROEP

Tyd: Woensdae om 18:00

Plek: Konferensielokaal

Kleuterkerk en jeuggroepe

Hierdie komende Sondag fokus ons op die vyfde “Ek is”-uitspraak in Johannes, waar Jesus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe". Indien jy en/of jou gesin in die komende week verder hieroor wil nadink en saam gesels, kan julle van die volgende huisgeloof gebruik maak:

Huisgeloof

Gesels saam: Het julle al verdwaal? Vertel kortliks hoe dit gevoel het en wat jou/julle gehelp het om weer rigting te kry.

Lees saam: Lees Johannes 14:1-14

Dink saam:

• Wat beteken dit dat Jesus nie net die Weg wys nie, maar self die Weg is?
• Wat dink julle is die verskil tussen om reëls te volg en om 'n Persoon te volg?
• As Jesus die Weg is, beteken dit daar is ook ander paaie wat nie lewe bring nie. Watter paaie bied die wêreld aan wat belowend lyk maar jou leeg laat?
• Wat gebeur met 'n mens se identiteit en lewe as jy begin glo dat Jesus jou Weg is?

Doen saam:

Een van die vroegste benamings wat gelowiges vir hulleself gebruik het, was “mense van die Weg”. Hulle het hul geloof nie net as ' stel oortuigings verstaan nie, maar as 'n manier van leef, 'n pad wat saam gestap word.

Bid vir mekaar dat ons ook vandag, hier in Suid-Afrika in 2026, mense van daardie selfde Weg sal wees, mense wie se lewens wys watter pad ons volg.

Kleuterkerk

Verbintenisgroep en Matrieks: Op reis met die Bybel

Hierdie Sondag maak ons klaar met ons vyf-weke lange tema: Op reis met die Bybel. Ons gaan saam nadink oor die vraag: Hoe lees ons die Bybel? Kom sluit by ons aan op Sondag, 8 Maart, om 18:00 in die Jeugsaal.

Jong Volwassenes Selgroep

Ons volgende byeenkoms is op 10 Maart om 18:30 in die Konferensielokaal. Die vorige keer het ons lekker saam gekuier en mekaar beter leer ken. Hierdie keer gaan ons saam gesels oor die vraag: Wat is die Bybel - en wat is die Bybel nie? Ons sien julle daar!

As jy meer wil weet, sluit gerus HIER aan op die WhatsApp-groep.


administrasie

Bedieningsvergaderings

Daar is geen vergaderings die week nie.


Uitreik

Uitreik

spensprojek

wat om te bring

MonCare 2026

MonCare se betrokkenheid by pleegsorg het oor tyd verander namate die konteks en vereistes van die dienslandskap ontwikkel het. Veranderde samewerkingsverhoudings, beleidsverskuiwings binne die staat, en die hoë koste van die pleegsorgmodel het dit toenemend duidelik gemaak dat hierdie fokus nie langer volhoubaar is nie. Ná deeglike onderskeiding het MonCare in November 2025 besluit om weg te beweeg van pleegsorg en sy werk te herfokus op voorkoming, ontwikkeling en terapeutiese ondersteuning binne die gemeente en breër gemeenskap.

Ons het 'n speiale inligtingstuk beskikbaar gemaak vir die wat belangstel en meer wil weet hiervan. Lees meer op HIERDIE skakel.

Dit is weer tyd vir Bottel en Bord.

Kom luister saam wanneer Dr. Theo de Jager ons toespreek op 19 Maart om 18:00 in die Jeugsaal. Moenie hierdie interessante en insiggewende geleentheid misloop nie.

bottel en bord

Verjaarsdae – Personeel

Ons wens Aldi Serfontein (teologiese student), Richard Prinsloo (ons orrelis) en Dawid van der Berg (terreinbeampte) hartlik geluk met hulle verjaarsdae. Mag dit vir elkeen ’n geseënde jaar wees.

verjaarsdae


Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):

Lees gerus die Noordelike Sinode in die week se nuusbrief.

noordsin

Lees die Noordelike Sinode se weeklikse nuusbrief HIER


Slotboodskap

In ’n wêreld vol geraas en onsekerheid word ons weer genooi om ons oë op Christus te rig. Nie om die werklikheid te ontken nie, maar om dit te leef met die wete dat God saam met ons is.

Mag hierdie Lydenstyd vir ons ’n tyd wees om weer bewus te word van God se teenwoordigheid in ons alledaagse lewe.

Tot volgende keer!

Ds. Lizl-Louise Schoeman

Back to Blog