
iM-pak Nuusbrief 6 Februarie


iM-pak Nuusbrief 6 Februarie
In hierdie uitgawe van iM-pak:
• Brief: Ds. Lizl-Louise Shoeman
• Eredienste
• Geloofsvorming
• Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):
BRIEF
Eergister by die Bybelstudie gee iemand vir my ’n blaadjie in die hand. Hy het so bietjie reggepak en hierop afgekom: Die Ramshoring. ’n Gedenkuitgawe van ons gemeente se 25ste bestaansjaar.
Met die oopmaak is daar ’n klomp datums:
30 September 1967 – Stigtingsvergadering in die Waterkloofkerk
4 Julie 1971 – Eerste erediens binne gemeentegrense in die skoolsaal van Laerskool Monumentpark
17/18 Junie 1972 – Inwyding van die kerkgebou
Januarie 1979 – Woensdagoggend bybelstudie begin vir die susters
En so begin die storie van die gemeente. Maar daar is meer as net die datums. Regdeur die uitgawe hoor jy die verhale van mense wat droom oor ’n eie kerkgebou, mense wat hard werk. Jy lees van tye wat mense aan mekaar bind. Daar is ook eerlike vrae oor die toekoms en bekommernis oor dit wat in Suid-Afrika gebeur. Vrae wat ons vandag steeds herken: Hoe lyk die toekoms van die kerk? Hoe bly ons geloofwaardig?
Die Woensdagoggend-Bybelstudie wat in Januarie 1979 begin het, is vandag al 47 jaar aan die gang. Nie omdat iemand dit destyds so beplan het nie, maar omdat mense eenvoudig opgedaag het. Week na week. Jaar na jaar.
Dit laat my besef: nie net mense nie, maar ook gemeentes kom iewers vandaan.
Ons het ’n herkoms. ’n Storie wat ons nie self begin het nie, maar waarin ons ingetrek is.
En nou is ons hier. 2026. Amper 60 jaar later.
Steeds ’n gemeente wat moet kies. Steeds ’n gemeente wat moet onderskei.
Dis begrotingstyd — en daarmee saam ’n tyd van eerlike vrae:
Hoe lyk ’n gemeente wat geloofwaardig leef in hierdie tyd?
Waar vra God ons aandag, ons energie, ons hulpbronne?
Ons neem hierdie besluite nie in ’n vakuum nie.
Voor ons was daar ander wat ook moes kies, sonder sekerhede, maar met hoop.
Na ons sal daar weer mense wees wat moet saamleef met wat vandag besluit word.
Mag hierdie jaar, met al die keuses, ‘n geloofwaardige storie wees waarop die volgende generasie kan bou!

Ds. Lizl-Louise Schoeman
BEDIENINGS NUUS

Erediens
Erediens: Sondag 1 Februarie om 9h00
Prediker: Dr. James Kirkpatrick
Aanlyn skakel vir die regstreekse uitsending.
Aanlyn bydraes:
Klik HIER om 'n bydrae te maak op Snapscan.
Biddag vir Onderwysers
Luister hier:
Hierdie Sondag is dit Biddag vir Opvoeding en Onderwys.
’n Gebed vir Onderwysers (na aanleiding van Psalm 112)
• deur Anriëtte de Ridder
Here, ons prys U vandag.
Ons dank U vir onderwysers –
Elkeen wat U dien en vertrou
en met blydskap hulle roeping uitleef.
Mag hulle invloed verder strek as wat hulle ooit sal sien,
van geslag tot geslag.
Gee vir hulle genoeg –
genoeg wysheid, genoeg krag, genoeg geduld,
en ook genoeg rus.
Laat U sonlig oor hulle lewens skyn,
veral op moeilike dae, wanneer hulle moeg is of druk ervaar.
Here, vorm hulle harte om vrygewig te wees –
met tyd, aandag en hoop.
Leer hulle om reg te doen,
selfs wanneer niemand dit raaksien nie.
En mag hulle vreugde groei
waar hulle leer, lei en liefhet.
-Amen-

Geloofsvorming
Bybelstudie en Groeigroep

BYBELSTUDIE
Tyd: Woensdae om 9:00
Plek: Jeugsaal

GROEIGROEP
Tyd: Woensdae om 18:00
Plek: Konferensielokaal
Kleuterkerk en jeuggroepe
Ons sien julle almal die komende Sondag!
Lokaal-verdeling 2026:

Verbintenisgroep en Matrieks: Op reis met die Bybel
Verlede week het ons gevra: Wat is die Bybel?
Hierdie week ontdek ons saam: Waar kom die Bybel vandaan?
Kom sluit by ons aan, Sondag 8 Februarie, om 18:00 in die Jeugsaal. Bring jou nuuskierigheid saam!
Huisgeloof
Hierdie komende Sondag gaan ons hoor hoe Jesus sê: “Ek is die brood van die lewe.” Indien jy en/of jou gesin in die komende week verder hieroor wil nadink en gesels, kan julle gebruik maak van die volgende huisgeloof:
Gesels saam:
Hoe lyk die perfekte braaibroodjie in julle oë? En watter bestanddeel is vir julle ononderhandelbaar?
Lees saam:
Johannes 6:1-15 en vers 35
Dink saam:
In die eerste deel van die verhaal gee Jesus fisies vir die mense brood.
Hoe sou julle gevoel het as julle deel was van die skare en Jesus vir julle kos gegee het?
Wanneer Jesus later sê “Ek is die brood van die lewe”, skuif Hy die betekenis weg van fisiese kos na iets dieper. Wat dink julle beteken dit dat Jesus die “brood van die lewe” is?
Wat dink julle bedoel Jesus as Hy sê dat wie na Hom toe kom, nooit weer honger sal kry nie?
Waarna dink julle hunker mense vandag wat nie met gewone kos gestil kan word nie?
Doen saam:
Maak saam braaibroodjies of eet ‘n stukkie brood saam.
Sluit dan af met gebed.
Jong Volwassenes Selgroep
As jy ’n jong volwassene is tussen 18 en 35, nooi ons jou graag uit om deel te word van ons jong volwassenes se selgroep wat op 24 Februarie afskop. Dis ’n ruimte waar ons saam kuier en ook saam dink oor geloof en die Bybel.
As jy meer wil weet, kontak asseblief vir Engela by 071 688 4039.

Bedieningsvergaderings

Skakel Noordelike Sinodebrief (Verskil):
Lees gerus die Noordelike Sinode in die week se nuusbrief.

Lees die Noordelike Sinode se weeklikse nuusbrief HIER
Slotboodskap
Dankie dat jy hierdie week se iM-Pak saam met ons gelees het. Hierdie uitgawe herinner ons daaraan dat ons gemeente ’n storie het wat oor dekades gevorm is deur mense wat gekies het om op te daag en met hoop te leef. Ons word vandag weer genooi om bewus en geloofwaardig deel te wees van God se groter storie. Met vreugde sien ons uit na die Graad 1’s se Roetemerker hierdie Sondag – ’n spesiale oomblik wat hierdie groter verhaal ook vir die volgende geslag sigbaar merk.
Tot volgende keer!
Ds. Lizl-Louise Schoeman
