2020 Bybelvertaling

Etlike jare lank werk ‘n uitgebreide span vertalers reeds aan ‘n nuwe Afrikaanse Bybelvertaling. Aan die einde van 2020, is dit uiteindelik klaar!

Is ‘n nuwe Bybelvertaling regtig nodig? Is daar dan iets verkeerd met die 1983-vertaling waaraan ons gewoond is? Het ons nie genoeg amptelike en nie-amptelike vertalings en parafrases in Afrikaans nie? Skep die nuwe vertaling nie ‘n ruimte waar hedendaagse teologiese strydpunte op die spits gedryf word wat tot verdeeldheid in die kerk gaan lei nie?

Miskien moet ons kyk wat die Uitvoerende Hoof van die Bybelgenootskap van Suider-Afrika etlike jare gelede gesê het toe daar aanvanklik ‘n motivering vir die nuwe Bybelvertaling gegee moes word. Ons kan die vyf sake wat hy genoem het, so opsom:

1) Sedert die tyd toe die 1983-vertaling die lig gesien het, het vertaalkenners se insigte in die oogmerke met en die proses van vertaling aansienlik uitgebrei.

2) Die studie van die tale waaruit die Bybel vertaal word (Hebreeus, Aramees en Grieks) het talle nuwe insigte gebring wat ons verstaan van woorde en uitdrukkings in die oorspronklike tale betref.

3) Enige taal ontwikkel voortdurend — ook Afrikaans. Hier en daar praat ons nie meer soos wat die 1983-vertaling ‘n saak stel nie.

4) Die proses waarvolgens die Bybel vertaal word, het die afgelope dekade of twee ook verander: Bybelvertaling word tans gedoen deur ‘n hele vertaalspan, nie net ‘n paar toegewyde teoloë nie. Nie-teoloë, veral kenners van die brontale en Afrikaanse taal- en letterkundiges, werk ook mee aan die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling. Daarby word die vertaalspan(ne) so saamgestel dat dit kundiges insluit uit alle kerke wat die Bybel in Afrikaans gebruik.

5) Hoewel daar sedert 1983 verskeie Afrikaanse Bybelvertalings verskyn het wat nie deur die Bybelgenootskap gepubliseer is nie, is daar bevind dat baie Bybellesers die behoefte het aan ‘n vertaling wat meer brontaalgeoriënteer is.

Die vertaalopdrag wat die vertaalspanne gekry het, is dat hulle ‘n goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel moet skep wat geskik is vir alle fasette van gemeentebediening.

In die tyd toe die 1933 Afrikaanse vertaling gedoen is, was ‘n woord-vir-woord vertaling die ideaal. Dit het egter plek-plek tot koddige Afrikaans gelei. ‘n Kenmerk van hierdie vertaling is dat woorde hier en daar in kursief geplaas is. Dit is woorde in Afrikaans wat nie direk na ‘n woord in die Hebreeuse (of Aramese of Griekse) teks herlei kon word nie. Dit was so goed soos om verskoning te maak dat dié woordjie daar staan, maar daarsonder sou die vertalers in ‘n groter verleentheid beland het, want dan sou die Afrikaans heeltemal onverstaanbaar gewees het.

Sedert die sewentigerjare was daar ‘n duidelike klemverskuiwing. Bybelvertalers het voorrang begin gee aan gemaklike kommunikasie. Die taal wat gebruik is, het loslit geraak en tegniese terme van die antieke tyd is vervang met terme wat reeds aan die hedendaagse lesers bekend was (byvoorbeeld range in die staatsdiens of weermag, mate en lengtes). Dié soort vertaling is ‘n dinamies-ekwivalente vertaling genoem. Die prys wat betaal is, is dat die “stem” van die brontale al dowwer geword het. Wanneer jy dié soort Bybelvertaling lees, voel dit asof die Bybelskrywer sommer net hier om die hoekie gesit en werk het, want jy sien baie van jóú (die hedendaagse leser se) wêreld in die teks. Die 1983-vertaling is gedoen toe dié vertaalideaal hoogty gevier het.

Die vertaalspan wat aan die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling werk, wil nie ‘n woord-vir-woord, óf ‘n dinamies-ekwivalente vertaling maak nie. Hulle het gekies vir ‘n vertaling wat die “eksotiese” karakter van die antieke wêreld waarin die Bybel ontstaan het en die taal en beelde wat daarmee gepaard gaan, respekteer. Die nuwe vertaling wil nie die Bybel vooraf “mak maak” deur die baadjie van die 21ste eeu om die teks te hang nie.

Miskien gee die volgende beeld vir ons ‘n aanduiding van wat ons van die nuwe Afrikaanse vertaling kan verwag: Wanneer ons oorvertel wat iemand vir ons gesê het, kan ons dit op een van twee maniere doen: Die eerste is om in die direkte rede te praat. Derek het gevra: “Kan ons twee ons skapies in een kraal jaag?” Jy kan egter ook die indirekte rede gebruik: Derek het my so pragtig gevra of ek met hom sal trou. Die eerste moontlikheid gee vir ons ‘n gevoel van wat die nuwe Afrikaanse vertaling probeer wees. Die tweede een wys in watter rigting baie Bybelvertalings tot onlangs gemik het.

Gelukkig bevat die vertaalspanne gesoute taalkenners van die brontale én van die Afrikaanse taal. Ons kan uitsien na ‘n keurige Afrikaanse vertaling wat ons ietsie van die wêreld en tale van die Bybel sal laat ruik. Is dit nie so dat die Bybel juis in sy andersheid ons help om vars na onsself en ons wêreld te kyk nie?