Die Here is in die klein dinge

Onlangs lees ek ’n verhaal op ’n Amerikaanse gemeente se webblad. Die gemeente het ’n sendingsprojek in Wes-Afrika. Onder andere het hulle ’n klein skooltjie in Senegal. Die aangrypende verhaal vertel van ’n klein seuntjie met die naam Jean.

Jean was baie alleen en het gewens dat hy vriende kon maak. By sy skool het meeste van die kinders hom vermy of gemaak of hulle hom nie sien nie. Pouse was vir Jean die slegste tyd van die dag. Die seuns was geneig om sokker tydens pouse te speel. Jean was baie lief vir sokker, maar het altyd maar net op die afstand gestaan en kyk.

Die groot probleem was dat Jean in ’n rystoel is. Toe hy baie klein was, het hy polio gehad. Sy bene is a.g.v. die siekte te swak om hom te dra. Op ander terreine was dit ook ’n groot probleem. Met tyd moet Jean na klasse beweeg wat nie op die grondvloer was nie en dus kon hy nie al sy klasse bywoon nie. Sy ouers het die hoof gaan spreek om ’n oplossing te vind. Die hoof het net sy skouers opgehaal. “Jammer, ons het trappe en dit is maar so” was sy antwoord. Jean se ouers het ander skole gaan sien, maar die gesindheid by almal was negatief. Niemand wil die probleemkind hê nie. Die spesiale skole was ook net te duur.

Op ’n dag hoor hulle van ’n klein sendingskooltjie in die middestad. Hulle het die hoof gaan sien. Die skoolhoof was ’n gawe man wat heel positief teenoor die ouers was. Naby die einde van die gesprek, skraap die pa die nodige moed bymekaar en sê vir die hoof: “jong, Jean is baie slim en hy is ’n goeie seun. Daar is net een probleem. Hy sukkel om te loop, so hy gebruik meestal ’n rystoel. Die hoof het slegs geglimlag en gesê: “weet jy, ek dink julle moet hom maar bring. Dan kan hy die ander kinders ontmoet en besluit of hy van die skool hou.

Die volgende dag daag Jean by die skool op. Hy was maar baie skepies oor die nuwe skool. Voor hom sien hy 3 redelik klein klasse staan. Die hoof het hom na die een geneem en aan die klas voorgestel. Die onderwyseres was vriendelik en het vir hom ’n sitplek aangedui. Toe pouse aanbreek, was Jean eers op sy senuwees. Soos was hy gevrees het, speel die kinders ook sokker op die speelgrond. Jean het maar soos gewoonlik in die hoekie gaan staan. Een van die onderwysers kom toe na Jean toe met die vraag: “hou jy van sokker?” Jean knik toe sy kop instemmend. “watter posisie speel jy?” “Ek is ’n doelwagter” sê Jean. Die onderwyser roep toe ’n paar van die seuns nader en vra hulle: “dink julle nie dat julle span ’n doelwagter kort nie?” Die was baie positief en Jean is op die veld op. Hy klim van sy rystoel af en gaan lê voor die doelhok. Tot almal se verbasing is Jean heel rats. Hy keer selfs party balle wat mens nooit gedink het hy sou by uitkom nie. Daar word Jean sommer die skoolspan se doelwagter. Aan die einde van pouse gaan kry een van die seun sommer uit sy eie ’n plank en plaas dit by die deur van hulle klas, sodat hulle nuwe vriend makliker kan in en uit beweeg.

Die verhaal van ’n onderwyser wat ’n paar seuns oortuig het om vir Jean ’n kans te gee om saam te speel is aangrypend. Dit het Jean se hele lewe verander. Ek is seker dat Jean ook in die proses ’n paar van sy medeskoliere se lewens aangeraak het. Ek is oortuig daarvan dat dit die gemeente wat die skool geplant het, ook verander het.

God werk op wonderbaarlike maniere. Soms gryp hy in met groot wonderwerke, maar meeste van die tyd werk Hy deur klein goedjies. Hy werk veral deur ons. Hier lees ons van mense wat na ’n ander land gegaan het, maar selfs daar dit die man se optrede wat die verskil gemaak het.

Om regtig God se boodskap van hoop in die wêreld in te dra, beteken nie net dat ons na ander lande moet gaan en boekies uitdeel nie. Self al weet ons dat daar ’n plek daarvoor is. Dit beteken dat ons van dag tot dag in ons eie konteks met ons oë moet oop leef.

Ek vermoed dat party uitreike flop, want ons gee net besittings vir mense. Ons gee iets, maar ons mis die mens wat daar staan. Ek dink een van ons grootste roepings as gelowiges is net om die mense agter die oë raak te sien.

Meeste van die tyd, beteken dit dat ons klein dingetjie sal raak sien. Om vir iemand ’n kans te gee om saam te speel, wat altyd op die kantlyn sit. Om vir ’n slag vriendelik met karwagte, die mense in winkelsentrum en mense in ons gemeenskap te wees. Liefde het vir ons hoofsaaklik ’n emosie geraak. Vir Jesus is dit meer iets wat jy doen. Kom ons gaan leef liefde in die klein en sagte dingetjie deur ons oë oop te hou en te kyk vir geleenthede om iets vir iemand te beteken.