Blowing out someone else's candle doesn't make yours shine any brighter.

Fout
  • JUser: :_load: Kan nie gebruiker laai met id: 66

Paasfees

Druk

Paasfees

Dis amper Paasnaweek en vir baie kinders beteken dit: vakansie hou en paaseiers eet. Maar het julle geweet dat Paasfees die eerste keer amper 4000 jaar gelede in Egipte gevier is? Dit was natuurlik toe die Israeliete, God se volk slawe van die Egiptenare was. 'n Slaaf is iemand wat aan iemand anders behoort en sonder betaling alles vir sy baas moes doen. Die Israeliete het baie swaar gekry in Egipte en hulle het gewens iemand sou hulle vry maak. God het hulle swaarkry gesien en vir Moses geroep om hulle uit Egipte en weg van slawerny te vat.

Onthou julle nog vir Moses? Dis hy wat in 'n biesiemandjie op die Nyl rivier tussen die riete weggesteek was. God het gesê hy moet na die Farao, die koning van Egipte, toe gaan en vra dat die Israeliete mag wegtrek. Vra gerus vir jou Pa of Ma om weer vir jou Eksodus 1-14 te lees. Die Farao wou natuurlik nie sy slawe sommer net laat gaan nie, want wie sou dan al die vuilwerk vir hom moes doen? Daarom het God tien plae oor die Egiptenare laat kom. Elke keer as 'n plaag die land getref het, het die Farao gesê die Israeliete kan maar trek, maar elke keer as die plaag verby was het die farao terruggegaan op sy woord. Die tiende plaag was die ergste van al die plae. Die Here het vir Moses gesê Hy gaan al die oudste kinders in Egipte doodmaak, sodat die Farao definitief die Israeliete sou vrylaat om te trek. Om te keer dat die doodsengel nie ook die oudste kinders van die Israeliete doodmaak nie, het die Here gesê al die Israeliete moet 'n lammetjie slag en dan die bloed van die lam teen hulle huise se deurkosyne smeer. Die lammetjies het gesterf en hulle bloed het gekeer dat nie een van die Israeliete doodgemaak is nie en dat almal uit Egipte kon trek. God het die lammetjies gebruik om al die Israeliete vry te laat wegkom.

Om sy kinders te herinner aan hoe Hy hulle uit Egipte, die plek waar hulle slawe was, gered het moes hulle elke jaar Paasfees vier. Baie jare later toe Jesus op aarde geleef het, het Hy en sy dissipels ook Paasfees gevier. Terwyl hulle geëet het, het Jesus brood en wyn gevat en vir sy dissipels gesê, die brood is soos sy liggaam en die wyn is soos sy bloed, as hulle dit eet moet hulle weet dat Hy wat Jesus is, nes die lammetjies in Egipte, doodgemaak gaan word. Nie sodat hulle nie meer slawe van die Egiptenare hoef te wees nie, maar sodat hulle en ons nie meer slawe van sonde hoef te wees nie. So het Jesus die lam van God geword waardeur ons gered word van die dood en hel.

En dis hoekom ons Paasfees vier: om terug te dink aan die dag toe Jesus vir ons sonde aan die kruis gesterf het. Die Donderdagnag wanneer Paasnaweek begin het die soldate Jesus gevang en die Vrydag het hulle Hom aan die kruis gespyker. Daar het Hy gehang totdat hy dood is en daarna het van sy vriende Hom begrawe. Die Sondagoggend toe Maria egter by die graf kom, was sy liggaam nie meer daar nie omdat Hy uit die dood opgestaan het. Daarom vier ons die Vrydag van Paasnaweek Jesus se dood. Dat hy gesterf het om ons deur sy bloed te red. En die Sondag vier ons Jesus se opstanding uit die dood. Dat Hy lewe sodat ons die Ewige lewe kan hê!
Bid sommer vandag nog en sê vir Jesus dankie dat Hy op Paasnaweek bereid was om in jou plek te sterf en vra sommer ook jou Ma of Pa om Lukas 22-24 vir jou in die Bybel te lees. Of nog beter, as jy al kan lees, doen dit sommer self.

Die Joodse vader se plig was om die uittog uit Egipte aan sy kinders te verduidelik. Vandag is dit my as ouer se plig om my kind van die betekenis van Paasfees te vertel. Ek moet seker maak dat my kinders die verhaal en Persoon van Paasfees ken. Kinders is gaande oor stories en daarom glo ek dat die storie van Paasfees met ʼn bietjie kreatiwiteit en moeite ook ʼn storie in 2011 kan wees wat almal in die huis sal herontdek en onthou.

Ek wil die eier wat so eie aan ons moderne Paasfees is gebruik as ʼn simbool en hulpmiddel om die ou verhaal vars, kreatief en nuut met kinders te deel. Hiervoor het jy 12 eiers nodig wat kan oopmaak nodig. As jy nie eiers kry nie, kan ʼn boksie ook werk.
Nommer die eiers van 1 tot 12. Skryf onderstaande Skrifgedeeltes afsonderlik op ʼn klein stukkie papier en plaas dit en die bypassende voorwerp binne in een van die eiers:
Eier 1 – ʼn Stukkie materiaal wat die intog van Jesus in Jerusalem op die donkie simboliseer. Matteus 21:1-11
Eier 2 – ʼn Stukkie brood of ronde koekie wat die laaste maaltyd wat Jesus saam met sy dissipels in die bovertrek gehad het in herinnering roep Matteus 26:26-30
Eier 3 – ʼn Stukkie seep wat die geleentheid waar Jesus die dissipels se voete gewas het simboliseer Johannes 13:1-17
Eier 4 – Drie tiensentstukke wat die 30 stukke silwer verteenwoordig wat Judas vir sy verraad van Jesus ontvang het Johannes 13:18-30
Eier 5 – ʼn Veer wat ons aan die haan laat dink wat gekraai het nadat Petrus Jesus verloën het Johannes 18:15-27
Eier 6 – ʼn Doring wat die kroon wat Jesus moes dra simboliseer Markus 15:16-20
Eier 7 – ʼn Dobbelsteen wat vertel van die lot wat die soldate oor Jesus se klere gewerp het Markus 15:21-24
Eier 8 – ʼn Klein houtkruis en spyker om die dood van Jesus aan die kruis te simboliseer Markus 15:21-32
Eier 9 – ʼn Stukkie swart papier wat die duisternis wat die aarde oorval het in herinnering roep Markus 15:33-41
Eier 10 – ʼn Stukkie wit lap wat ons herinner aan die lappe waarmee Josef van Arimatea Jesus se liggaam toegedraai het Markus 15:42-47
Eier 11 – ʼn Stukkie klip wat die klip waarmee Jesus se graf verseël was simboliseer Matteus 27:62-66
Eier 12 – Los hierdie eier leeg om Jesus se opstanding uit die dood en die leë graf te simboliseer Matteus 28:1-15
Plaas ʼn klein tafeltjie in die hoek van die eetkamer. Versier dit kreatief en plaas die gevulde plastiek eiers op die tafel. Kom as gesin ooreen om vir 12 dae aan tafel te sit en saam te eet. Los die eet voor die TV ʼn bietjie vir later. Nadat julle klaar geëet het, kan julle een eier per aand vir die tien dae voor Goeie Vrydag oopmaak. Maak eier 11 op die aand van Goeie Vrydag oop. Los die eetkamer donker op die Saterdag na Goeie Vrydag en eet daardie aand met kerse in die donker en dink aan Jesus wat dood was en betaal het vir al ons sondes. Maak eier nommer 12 tydens Sondagmiddag ete oop. Sorg dat daar baie lig in die vertrek is en maak die vertrek mooi. Vier fees saam met mekaar omdat die graf leeg is en Jesus uit die dood opgestaan het. Lees elke dag die Skrifgedeelte wat in die eier is en praat daaroor. Ouers kan iets oor die voorwerp of simboliek sê om die gedeelte aan die kinders te verduidelik.
Sluit die twaalf dae tydens die Opstandingsdiens wat Sondag plaasvind af. Gee vir ʼn paar gesinne die geleentheid om te vertel van wat hulle as gesin so om die tafel beleef het.
Hierdie is maar net ʼn praktiese manier om nuut te dink oor die betekenis van Paasfees. Die bedoeling is om jou gedagtes aan die gang te sit. Dink nuut en vars en vertel die kinders in jou gemeente en huis hoekom Paastyd so anders as enige ander tyd in die geskiedenis van die wêreld is, was en sal bly wees.

 

GoogleCalendar